Nuus
gepos in

Teksmark wag vir jóú verhoogteks.

Kknk
gepos in

Alle gevestigde en opkomende skrywers word genooi om hul idees en tekste vir die sewende Teksmark, van 22 tot 27 Augustus by die Baxterteater in Kaapstad, in te skryf.

“Goeie teater begin by ’n goeie teks. En ’n goeie teks begin by ’n goeie idee wat aanklank by die tye vind. Met Teksmark kan skrywers eers hul idees voorlê en vandaar kan ’n skryfproses begin. Daar is tekste wat reeds met reuse-sukses uit die projek ontwikkel is, asook tekste wat oor die langtermyn ontwikkel word. Ek is opgewonde om te sien wat skrywers hierdie jaar voorlê. Ons skrywers is toonaangewend in die tye waarin ons leef.” Só sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Teksmark is ’n projek van die KKNK, in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteater, waar idees en tekste met belangstellendes in die bedryf gedeel word vir moontlike verdere ontwikkeling.

Theart sê verder dat vele tekste wat sedert die ontstaan van dié projek by Teksmark voorgelê is, reeds met pryse en nominasies bekroon is. “Tien Teksmark-tekste is tot volwaardige produksies ontwikkel, sommiges is gepubliseer en die jongste suksesverhale uit dié projek is Karatara en Agulhasvlakte, wat in 2019 tydens Teksmark voorgelê is en vanjaar by die KKNK gedebuteer het. Karatara is met die Kanna vir beste debuutwerk bekroon.” Die halwe huis is nog ’n voorstel wat aan Teksmark voorgelê is en ’n uittreksel is tydens die Oudtshoorn Teksmark in 2021 aangebied, waarna dit verder ontwikkel is en by vanjaar se KKNK gedebuteer het.

Teks-idees word in alle genres oorweeg, maar komedie, satiriese tekste en tekste gemik op kinders en jong volwassenes word veral aangemoedig. Só ook word voorstelle in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale oorweeg en veeltalige produksies word aangemoedig. Slegs tekste deur Suid-Afrikaanse burgers wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê dat Teksmark die laaste twee jaar ’n soort troos vir die bedryf in ’n droewige tyd van bykans geen regstreekse teater geword het en die jongste Teksmark keer terug na die oorspronklike wortels van dié projek.

“Nou dat ons weet ons kan weer teater maak, het ons skrywers en tekste met nuwe, vars idees en aanslae nodig. Die wêreld het oor die laaste twee jaar so baie verander. Ons skrywers moet ons help om sin hiervan te maak en ons herinner dat die teater en die verhoog dié plek is waar ons met idees kan speel en eksperimenteer. Daarom wil ons skrywers uitdaag om die geleentheid aan te gryp, ons te kom verras, vermaak en bowenal te laat dink, soos dit goeie teater betaam,” sê sy.

Volgens Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxterteater, behou die kunste en storievertel hul betekenisvolle doel om ons samelewing en gemeenskappe te genees soos wat ons voortbeur in die stryd teen die Covid-19-pandemie en inperking, met veerkragtigheid en relevantheid, nou meer as ooit.

Teksmark, nou in sy sewende jaar, se groei is bemoedigend vir die bedryf en spesifiek vir kunstenaars. Dit is vir my verblydend om vanjaar die span, die kunstenaars en die gaste by die Baxter te verwelkom vir Teksmark 2022. Die slyp van jong kunstenaars, skrywers en teatermakers sal altyd ’n fundamentele deel uitmaak van wat ons by die Baxter doen en daarom is hierdie samewerking met Teksmark so deurslaggewend. Om stories te ontwikkel wat in hul moedertaal oorvertel word, in die inheemse taal wat die meeste tot die werk bydra, moet ons almal inspireer om meer te doen.”

Die proses werk só: Skrywers bied tydens Teksmark ’n voorlegging oor hul idee aan, gevolg deur ’n uittreksel wat as leesteater aangebied word, waarna ’n gesprek met insette van die rolspelers en gehoor volg. Hierdie gehoor sluit genooide teater- en feesverteenwoordigers, sowel as moontlike beleggers en vervaardigers in.

Daar is egter beperkte tydgleuwe beskikbaar, daarom kies ’n onafhanklike paneel slegs ’n sekere aantal tekste. Professionele regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer aangestel om uittreksels op te voer.

Uittreksels uit tekste deur skrywers in die Jong Sterre-projek (’n projek van NATi, die Jakes Gerwel-stigting en die Suidoosterfees) word weer vanjaar by Teksmark ingesluit. Só ook tekste van die Premièrefees van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement, en teks-idees uit Tekstmarkt (’n internasionale samewerkingsprojek met Nederland).

’n Volledige lys van riglyne vir voorstelle is op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/teksmark beskikbaar, waar voorstelle ook met ’n maklike elektroniese vorm ingedien kan word. Die sluitingsdatum vir voorstelle is Maandag 27 Junie 2022 om middernag.

Vir navrae kontak Lizané Basson by 044 203 8600, of per e-pos by teksmark@kunste.org.za.