Nuus
gepos in

Inskrywings vir derde Dramaweb SA open binnekort

Kknk
gepos in

Suid-Afrika se jong akteurs wat hul talent wil slyp en landswyd teen hul eweknieë wil deelneem, kan binnekort vir die derde Dramaweb SA aanlyn kompetisie inskryf. 

Hierdie gewilde kompetisie is in 2020 tydens die grendeltyd deur akteurs Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz geloods om die jeug te inspireer, te leer en uiteindelik deur middel van dié aanlyn dramakompetisie te vereer. Nóg beter nuus is dat dié kompetisie vanjaar in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied word en voortaan as KKNK Dramaweb SA bekendstaan. 

“Dit is vir ons ’n voorreg om vanjaar nouer by die projek betrokke te raak en ook ’n absolute plesier om die vordering van die leerders dop te hou en saam met hulle groei te ervaar,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. 

Theart sê jongmense het die afgelope twee jaar baie veranderinge in hul daaglikse lewe trotseer en moes leer om aan te pas en aan te beweeg. “Dit is verblydend om te weet die leerders is so toegewyd en positief oor die Dramaweb SA-program en om hul vordering en uiteindelike vreugde vir hul prestasies saam met hulle te beleef. Die deelnemers is ernstig oor ’n toekoms op die planke en voor die skerm!”

Volgens Blanckenberg is hul konstant in verwondering oor die land se talent. “Ons hoofdoel is om alle aspekte van toneelspel uit te bou en te ontwikkel en ’n koesterende omgewing van groei te skep waar al die deelnemers die wonder van die verhoog, mekaar, en hul eie talente voor ’n gehoor kan slyp,” vertel sy. 

Afdelings vir inskrywings sluit prosa, gedigte, monoloë en mimiek in, met ’n afdeling vir spreekkore wat vanjaar bygevoeg is. Deelname word aanlyn hanteer, met kundiges wat deelnemers sal bystaan en lei in die proses. 

“Die kunste trek gemeenskappe by mekaar. Om ’n liefde vir die kunste by kinders te kweek dien die doel om die toekoms daarvan te verseker. Ons nooi dus alle skoliere met ’n liefde vir die kunste uit om aan vanjaar se kompetisie deel te neem”, sluit Theart af.  

Vanjaar se opwindende pryse sluit in: twee hoverboards, asook geskenkbewyse van Bargain Books, Yokico, Vida e caffè, Wimpy, Revlon, N1 City Mall, Exclusive Brands Online en vele meer – met ’n totale waarde van R20 000!

Inskrywings vir KKNK Dramaweb SA is reeds oop. Vroeë inskrywingskoste beloop R140 per item vir alle inskrywings wat teen 15 Maart ingedien word. Daarna is die koste R170 per item. Video-opnames van deelnemers kan teen 10 Mei by www.dramawebsa.co.za opgelaai word. Deelname vind in Afrikaans, of Engels plaas en eie materiaal word vir alle items gekies. Die eindronde vir Afrikaanse items vind op 18 Junie plaas en vir Engelse items op 19 Junie. 

Vir meer inligting, besoek Dramaweb SA of die KKNK se webblad by www.kknk.co.za, of kontak Daventia Kennedy by 044 203 8600 of info@dramawebsa.co.za. Vir raad en ondersteuning, kontak gerus vir Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za

Die KKNK word ondersteun deur Absa en Media24, met addisionele steun van die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Wes-Kaapse Regering se Departement vir Kultuursake en Sport, asook die Oudtshoorn Munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton-stigting.