Nuus
gepos in

Gratis KKNK-vermaak in oorvloed om die nuwe jaar te vier

Kknk
gepos in

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) bied ’n verskeidenheid gratis vermaak aan kultuurdiere regoor Suid-Afrika.

“Ons bied hope gratis inhoud wat feesgangers in die gemak van hul eie huise en op hul eie tyd kan geniet,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Die aanbod skop af met twee bekroonde verhoogproduksies wat tot 17 Januarie 2022 eksklusief op die KKNK se webblad te sien is. Brandbaar met Rehane Abrahams en Lukhanyiso Skosana speel af teen die agtergrond van ’n episode uit die Indiese Mahabharata-epos. Eietydse werklikhede word verweef met die stories van twee vroue in die Kaapkolonie se stigtingsjare.

Kknk

Queenie-hulle met Jill Levenberg, Louw Venter, Brendon Daniels, Lynelle Kenned en Jaques de Silva, met teks en regie deur Christo Davids en Lloyd Davids, vertel die storie van ’n groep bergies wat jare lank die Good Hope Centre in Kaapstad se trappe hul tuistegemaak het. Christo Davids se bekroonde produksie het slegs by Aardklop 2019 gespeel, voordat die Covid-19-pandemie ander speelvakke gekortwiek het.

Kknk

Volgens Alexa Strachan, uitvoerende hoof van Aardklop, is dit vir die spelers wonderlik om hul werk met KKNK-gehore te kan deel. “Die lot van die weerlose en naamlose in ons liewe land word al meer relevant. Met die maak van hierdie teaterfilm het ons mekaar weer herinner waarom hierdie storie só relevant bly: ons is geneig om net na onsself om te sien, en binne ons eie kring weg te kruip. Queenie-hulle herinner ons aan ons eie weerloosheid, en klop aan ons gewetensdeur rakende die krag en noodsaaklikheid van medemenslikheid en respek vir ieder en elk. Maar laat ek byvoeg, dis ook sommer net goeie storie-vertel, soos tipies aan Christo: dis werklik goeie vermaak en skreeusnaaks, voordat dit jou binnegoed knoop. Soos die lewe seker maar ook – snaaks, maar nie vir sissies nie.”

Netwerk24 se Deborah Steinmair skryf oor dié stuk: “Christo Davids skep hier monumentale teater met eggo’s van Beckett en Brecht. Dis ’n driepennie-opera, ’n bedelaarsballet, ’n vlooisirkus, ’n ballade van bergies, ’n gewag op behuising en hoop. Die spel is hipnoties aangrypend. Uiteindelik herken elke gehoorlid sy of haar eie onsekerheid en gevoel van ontheemdheid in hierdie land. Natuurlik is daar ’n bloedige klimaks en die gehoor is ten slotte verslae, stom en betraand. Dis teater wat tot op die been sny.”

Theart vertel verder daar is boonop drie teaterdramas op die kassie te sien op DStv Catch Up, nadat dit in Desember en Januarie eksklusief op VIA uitgesaai is. “Dit is steeds feestyd op VIA met Koningin Lear (geskryf deur Tom Lanoye, vertaal deur Antjie Krog met o.a. Antoinette Kellermann, André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld), Asem (regie deur Marthinus Basson met Antoinette

Kknk

Kellermann, Edwin van der Walt, Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots) en Opdrifsel (met Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots).”

Vyf KKNK-reekse, ondersteun deur Absa, is op die KKNK se YouTube-kanaal te sien. Dit sluit in: Oudtshoorn se mense, ’n spesiale reeks waar inwoners van Oudtshoorn nie net hul talente ten toon stel nie, maar ook gesels oor dié besonderse dorp en streek; 21 Lewenslesse waarin inspirerende Suid- Afrikaners, o.a. Diana Ferrus, Sandra Prinsloo, Marthinus Basson, prof. Rachel Jafta, Anna-Mart van der Merwe, Soli Philander en Frazer Barry verfilm is waar hulle hul lewenslesse deel; KKNK Comedy Minutes waar komediante en storievertellers soos Rob van Vuuren, Conrad Koch, Shimmy Isaacs, Dana Snyman, Kagiso Mokgadi, Marion Holm, Alan Committie en Pietman Geldenhuys ’n paar staaltjies en grappe vertel; Skielik is die ligte af!, ’n gespreksreeks gelei deur kliniese sielkundige en psigoanalitiese terapeut, Melody Pick, wat die soeklig op die impak van die Covid-19-pandemie op die kunste in Suid-Afrika plaas en The Karoo Project, ’n unieke musiekreeks met Zolani Mahola, Jitsvinger en Native Young, met die beeldskone en magiese Karoo as agtergrond.

Besoek die KKNK se webblad of YouTube-kanaal vir meer inligting.