Nuus
gepos in

Fantastiese pryse op die spel by derde KKNK DramaWeb SA

Kknk
gepos in

 Jongmense wat hul toneelspelvernuf wil slyp én heerlike pryse van meer as R50 000 in totaal wil wen, kan steeds inskryf vir die derde aanlyn KKNK Dramaweb SA-kompetisie. 

“Ons hoofdoel is om alle aspekte van toneelspel uit te bou en te ontwikkel en ’n koesterende omgewing van groei te skep waar al die deelnemers die wonder van die verhoog, mekaar, en hul eie talente voor ’n [aanlyn] gehoor kan slyp,” sê Ira Blanckenberg, inisieerder en organiseerder van die inisiatief.

Lizané Basson, KKNK se algemene bestuurder, voeg by: “Die KKNK is deel van dié projek omdat dit ’n liefde vir die kunste en literatuur kweek onder kinders en die jeug, ’n platform bied, vaardighede soos selfvertroue ontwikkel en waardes versterk, onder meer dissipline, empatie, en vele ander.”

Een van verlede jaar se wenners, Anje Moolman (Laerskool Die Krans) vertel: “Dramaweb SA was só lekker vir my! Nie net omdat ek sowaar gewen het nie, maar omdat die beoordelaars baie oulik was.”

Wenner Mia-Cecilia Kriel (Curro Durbanville) sê: “Dis aanlyn, so meer leerders in Suid-Afrika kry geleentheid om deel te neem. Die terugvoer is baie goed en deeglik en wys jou waar daar plek is vir verbetering. Ek het die hele ondervinding baie geniet!”

Nog ’n 2021-wenner, Danelle Jacobs (Hoërskool Martin Oosthuizen), sê: “Hierdie kompetisie gee jou die geleentheid om uit jou gemaksone te kom en vir ’n oomblik iets so naby aan ‘lewe op die kassie’ te ervaar, omdat dit regstreeks vertoon. Dit was absoluut fantasties; iets waaraan ek jong akteurs aanraai om deel te neem.”

Jacobus Oosthuizen (Voluit Primêre Skool), sê: “As iemand my vra hoekom skryf jy in vir Dramaweb SA, is my onmiddellike antwoord: ‘hoekom nié?!’ Behalwe vir die fantastiese pryse het ek so ongelooflik baie geleer uit die terugvoer ontvang vanaf die kundige beoordelaars. Om as een van 2021 se wenners uit te tree was beslis een van die hoogtepunte van my lewe en het soveel geleenthede vir my geskep om my prosa te kon deel op my gemeenskapsverhoë. Ek is reeds hard aan die werk vir vanjaar se kompetisie!” 

Pamela Phakati (Apex High School), nog ’n 2021-wenner, was dít eens: “My ervaring met Dramaweb SA was een van dié wonderlikste ooit! Eers was ek skrikkerig, maar om deel van die kompetisie te wees het so baie beteken, om uit te tree was nie ’n opsie nie. Die idee dat jy optree en weet dat mense – nie énige mense nie, maar mense wat jy al op TV gesien het! – hou jou dop, het my hoendervleis gegee en verder gemotiveer! Om in te skryf gee jou moed en dis ’n platform om jou talent bloot te stel. Wen is nie alles nie – ’n mens moet geniet wat jy doen. Wen kan die kersie op die koek wees, maar jou opvoering moet dan die koek wees. Dankie aan my dramaonderwyser wat altyd die groter prentjie gesien en in ons geglo het selfs voor ons in onsself geglo het!”

Die pryse ter waarde van meer as R50 000 in totaal sluit in:

  • Die gewilde oudio-leesplatform BiB is een van vanjaar se borge en twee gelukkige wenners (een in Afrikaans en een in Engels) kan elk ’n betaalde stemkontrak wen om ’n oudio-boekvoorlesing vir hulle te doen, wat dan op hul platform gepubliseer sal word!
  • 30 geskenkbewyse (R300 elk), 30 geskenksakkies gevul met hul PNA-handelsmerkprodukte
  • 2 i-Glide “hoverboards” van Exclusive Brands Online
  • 5 geskenkpakke (R500 elk) en 3 “unboxing” YouTube-geleenthede van Yokico
  • 10 geskenkbewyse (R200 elk) van Bargain Books
  • 2 geskenkbewyse (R1 000 elk) by enige twee handelaars in die N1-Stad-winkelsentrum
  • 2 grimeergeskenkpakke (R800 elk) van Revlon
  • 2 Volkano Bluetooth-luidsprekers (R780 elk) van Dischem
  • 5 geskenkbewyse (R200 elk), en 10 geskenkbewyse (R50 elk) van Wimpy
  • 2 geskenkpakke (R400 elk) van Clippa Sales
  • 10 geskenkbewyse (R50 elk) van Vida e caffè

Leerders kan deelneem deur video-opnames vir die kompetisie in te skryf in een of meer van die volgende kategorieë: prosa, gedigte, monoloë, mimiek en ’n afdeling vir spreekkore. Leerders sal teen hul eweknieë landswyd deelneem. Terugvoer van professionele akteurs in die bedryf word aan elke deelnemer vir elke item gestuur.

Aansoeke vir KKNK Dramaweb SA sluit op Saterdag 30 April 2022 en die inskrywingsfooi beloop R170 per item. Video-opnames van deelnemers kan egter tot 10 Mei 2022 by www.dramawebsa.co.za opgelaai word. Deelname vind in Afrikaans of Engels plaas, en eie materiaal word vir alle items gekies. Die eindronde vir Afrikaanse items vind op 18 Junie 2022 plaas en vir Engelse items op 19 Junie 2022 wat aanlyn aangebied word en regstreeks gestroom sal word.

Vir meer inligting, besoek Dramaweb SA op die KKNK-webblad by www.kknk.co.za/dramaweb-sa/, of kontak Daventia Kennedy by 044 203 8600 of stuur e-pos na info@dramawebsa.co.za. Vir raad en ondersteuning, kontak gerus vir Ira Blanckenberg by ira@dramawebsa.co.za