News
Posted in

KKNK2022 Kannapryswenners bekend!

Kknk
Posted in

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kannapryse, wat erkenning aan produksies en individue vir uitnemende bydraes tot die fees gee, is op 22 April by ’n swierige geleentheid by M-Studios in Philadelphia, Kaapstad aangebied. Die akteur Marion Holm was die aanbieder en pryse in 19 kategorieë is uitgedeel. Die geleentheid is regstreeks aanlyn gestroom na Netwerk24 en die KKNK se web- en Facebookblad en is steeds hier beskikbaar.

Dié jaar se Kannapaneel was Diane de Beer, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Gary Naidoo, Alby Michaels en Robyn van de Rhede. Die sameroeper van die onafhanklike paneel was Rafiek Mammon.

Mammon sê: “Ek is amper te bang om te sê ‘geluk’ en ‘welgedaan’ aan nét die wenners. Ek wil liewer praat oor hoe ’n enorme taak dit was om by die kortlys van benoemdes uit te kom, omdat die gehalte van die werk so goed is! Dít is maar waaroor dit gaan – die kwaliteit van die werk wat kunstenaars en teatermakers gelewer het vir vanjaar se KKNK. Dis asof twee jaar van grendeltydperke en Covid-19 almal aangemoedig het om beter en sterker daaruit te kom, met ’n duidelike hongerte en begeerte om goeie teater te wil maak.”

Die huldigingsproduksie aan die ontslape Pieter Fourie, Ek, Anna van Wyk, was die groot wenner van die aand en het met vyf Kannas weggestap: vir beste teateraanbieding, regie, ontwerp (Marthinus Basson), vroulike akteur (Tinarie van Wyk Loots)  en manlike byspeler (Carlo Daniels). Die produksie wat die 70ste verjaardag van twee ikone, Antoinette Kellermann en Antjie Krog, gevier het, die oerkluts kwyt, is met twee Kannas vereer, vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vroulike byspeler (Ancient Voices).

Karatara, ’n uitsonderlike multi-dissiplinêre dansproduksie en roerende blik op die impak en gevolge van die Knysna-brande in 2018, het die prys vir beste debuutdrama ontvang.

Die Absa Kanna vir bydrae tot visuele kuns is vanjaar toegeken aan die kunstenaar Karin Preller vir haar uitstalling, Beyond Memory, en Emo Adams & Take Note is as beste musiekproduksie vereer met hul energieke en uitstaande optredes by die fees. Wessel Pretorius is as beste akteur aangewys vir sy spel in die Baxter-teater se produksie, Kiss of the Spider Woman.

’n Nuwe konsepteaterprojek, Lucky Pakkie-teater – kort stukke in verskillende dissiplines wat deur ’n verskeidenheid opkomende en meer gevestigde kunstenaars as verrassingspakkette aangebied is – is ook met groot opwinding deur feesgehore ontvang. Om skoon te wees, geskryf deur Adriaan Havenga, met Havenga en Conradie van Heerden in die rolverdeling, is aangewys as die beste stuk van dié projek.

Mirinda Ntantiso is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir haar spel in Op hierie dag, ’n teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Oudtshoorn-gefokusde projek, Karoo Kaarte, aangebied is. Karoo Kaarte het ook die Herrie-prys ontvang. Dié prys word jaarliks aan ’n individu, projek of produksie deur die paneel toegeken vir grensverskuiwende werk wat feesgangers laat gons het. Karoo Kaarte is ’n multi-dissiplinêre kunsteprojek wat deurlopend in Oudtshoorn deur die kunste en spesifieke prosesse ’n verskil in en sosiale impak op die dorp en streek bewerkstellig. Die projek, onder leiding van Neil Coppen en Vaughn Sadie, fokus ook op vaardigheidsontwikkeling en langtermyn werkskepping.

In 2018 is daar ook spesiale tegniese pryse by die Kannas ingestel om ook aan die individue wat agter die skerms werk en die ruggraat van die fees is, erkenning te gee. Hierdie jaar is drie pryse oorhandig: ’n spesiale prys vir opkomende tegniese talent is aan Clayton Carlson oorhandig; Braam Avenant is vereer vir sy uitnemende tegniese bydrae oor die jare by die KKNK en Jeanne Steenkamp is vereer as verhoogbestuurder en vir bydraes oor die afgelope dekades. Danie Maart het ook ’n spesiale Kanna ontvang vir sy diens van 20 jaar aan die KKNK.

Die Kannapryse en -geleentheid is geborg en ondersteun deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, Netwerk24, die ATKV, NATi, Alert Patrol Security, Beans About Coffee, die Oudtshoorn Besigheidskamer, Wicus Pretorius, Ton en Anet Vosloo, M-Studios, Brainwave Productions, Multi-Media, XL-EVENTS, Van Loveren Wyne en die SAB.

Wenners ontvang kontantpryse en ’n houtsneebeeld deur Collen en Johannes Maswanganyi.

Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het in sy toespraak die borge en vennote bedank vir hul volgehoue ondersteuning, nie net vir KKNK 2022 nie, maar ook die ondersteuning wat lojale vennote, onder meer Absa, Media24, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering se departement van kultuursake en sport, asook ander borge en donateurs gebied het. Hy het gesê dat, met hulle ondersteuning, die KKNK kuns en kultuur steeds deur die moeilike tye kon bevorder en ook werksgeleenthede in die kunste skep vir honderde kunstenaars en tegnici.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk en die KKNK, het gesê dat die afgelope paar jaar uitdagend was en dat teaters en die feeste nou weer stadig hul voete begin vind. “Die KKNK was die eerste volwaardige kunstefees in twee jaar in Suid-Afrika. Dit was ’n fees van dankbaarheid en hoop. Behalwe vir borge en donateurs wat dit alles moontlik gemaak het, moet ons ook ons gehore bedank. Hulle het entoesiasties teruggekeer en dit was wonderlik om weer ons fees-familie bymekaar te hê.” Hy het ook die permanente KKNK-personeel bedank vir hul deursettingsvermoeë gedurende die afgelope jare en maande, asook die tydelike personeel wat ingespring het en die 26ste KKNK ’n reuse-sukses gemaak het.

Theart het ook aangekondig dat die beplanning vir die 27ste KKNK in Oudtshoorn reeds begin het en dat feesgangers kan regmaak om weer vanaf 1 tot 9 April 2023 na Oudtshoorn op te ruk vir ’n fees van gehalte musiek, – teater en – gesprekke. Maar hy het ook genoem dat klassieke musiekliefhebbers vanaf 5 tot 9 Augustus vanjaar weer kan uitsien na Klein Karoo Klassique, wat dié jaar ’n paar verrassings en formaat-aanpassings insluit. Die volledige program sal teen middel-Mei bekend gemaak word. ’n Ander hoogtepunt vir 2022 is ook die Teksmark, wat weer einde Augustus saam met NATi en die Baxter-teater in Kaapstad sal plaasvind.

Die volledige lys van Kannawenners is:

Kanna Slurpie-prys: opkomende kunstenaar (geborg deur Ton en Anet Vosloo)
Mirinda Ntantiso vir spel in Op hierie dag

Kknk

Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns (geborg deur Absa)
Karin Preller vir die uitstalling Beyond Memory

Kknk

Kanna vir beste byspeler: manlik
Carlo Daniels – Ek, Anna van Wyk

Kknk

Kanna vir beste byspeler: vroulik
The Ancient Voices: Nomapostile Nyiki en Lungiswa Plaatjies – die oerkluts kwyt

Kknk

Kanna vir beste akteur: manlik
Wessel Pretorius – Kiss of the Spider Woman

Kknk

Kanna vir beste akteur: vroulik
Tinarie van Wyk Loots – Ek, Anna van Wyk

Kknk

Kanna vir beste regie (geborg deur Netwerk24)
Marthinus Basson – Ek, Anna van Wyk

Kknk

Kanna vir beste teaterontwerp
Marthinus Basson – Ek, Anna van Wyk

Kknk

Kanna vir uitnemende literêre bydrae (geborg deur NATi)
Frieda van den Heever vir die samestelling van die oerkluts kwyt uit die werk van Antjie Krog

Kknk

Kanna vir beste kinderteater
Liewe Heksie en die rolskaatse

Kknk

Kanna vir beste Lucky Pakkie-aanbieding
Om skoon te wees

Kknk

Kanna vir beste debuutwerk (geborg deur ATKV)
Karatara

Kknk

Kanna vir beste teateraanbieding (geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds)
Ek, Anna van Wyk

Kknk

Kanna vir beste musiekaanbieding (geborg deur Wicus Pretorius)
Emo Adams & Take Note

Kknk

Kanna Herrie-prys (geborg deur die Oudtshoorn Besigheidskamer)
Karoo Kaarte

Kknk

Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK (geborg deur Kunste Onbeperk)
Danie Maart

Kanna vir tegniese uitnemendheid en diens aan die KKNK (geborg deur Alert Patrol)
Braam Avenant

Spesiale prys vir opkomende tegniese talent (geborg deur Beans About Coffee)
Clayton Carlson

Kanna vir tegniese bydrae tot die kunste (geborg deur die Kunste Onbeperk)
Jeanne Steenkamp