

Drie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskip-dramas is in Januarie 2022 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien. Nou beskikbaar op Catch Up.
Hierdie vier teaterstukke wat onlangs op film vasgevang is, sluit drie Suid-Afrikaanse werke en ’n vertaalde Vlaamse teks in: Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear (vertaal deur Antjie Krog) en Reza de Wet se Asem (vertaal deur Marthinus Basson).
- Asem: 26 Desember 21:00, met heruitsendings op 3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00. Beskikbaar tot 23 Januarie op Catch Up.
- Koningin Lear: 1 Januarie 21:00, met heruitsendings op 5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00. Beskikbaar tot 29 Januarie op Catch Up.
- Opdrifsel: 2 Januarie 21:00, met heruitsendings op 4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00. Beskikbaar tot 30 Januarie op Catch Up.
Die Naaimasjien
25 Desember 20:00.
Geen heruitsendings.
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Die hele gesin, met ouerbegeleiding
Tydsduur: 60 minutes
Teks: Rachelle Greeff (2008 Nagtegaal-tekspryswenner)
With Sandra Prinsloo
Regie en ontwerp: Hennie van Greunen
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp
Oorspronklik vervaardig deur Bev Maritz vir Joho! Produksies
Opname deur Brainwave Productions
Na honderde optredes landwyd, oor bykans drie jaar, en ’n onvergeetlike speelvak in by die Edinburgh-fees in Skotland, kry hierdie legendariese toneelstuk weer lewe.
Magdaleen sit in haar ouetehuiskamer. Sy is besig om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak, want die vrou op die foon het gesê sy’s drie uur vanmiddag hier om dit op te tel. Terwyl sy hierdie konstante metgesel van die afgelope 55 jaar netjies blink vryf, gaan haar gedagtes na haar man en kinders, die dae toe haar pa nog koning was op sy eie plaas, na die onskuld van ’n tyd wat nie meer bestaan nie, wat dalk nooit bestaan het nie. Want sien, oumense is nie dom nie; hulle slim sit in die voering van ’n ander tyd. Met deernis en humor vat Magdaleen ons terug na ’n tyd van melkaflewerings, sykouse met nate, moerkoffie en melkskeiers. En sy herinner ons aan hoe ’n ma – soos ’n baboeshka-poppie – binne in elkeen van haar kinders staan.
Opdrifsel
‘n KKNK-produksie, ondersteun deur NATi
‘n Thank you Kindly, Bobby-produksie
2 Januarie 21:00, met heruitsendings op
4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00.
Beskikbaar tot 30 Januarie op Catch Up.
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Geen o.18 T S N
Tydsduur: 90 minute
Teks: Philip Rademeyer
With Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels
Regie: Philip Rademeyer
Stelontwerp: Juanita Ferreira
Produksie- en verhoogbestuur en beligtingsontwerp: Andi Colombo
Opdrifsel sou by KKNK in 2020 debuteer, maar weens die pandemie kon dit nie gebeur nie. Die filmweergawe is in 2021 verfilm. En die produksie kon by die Aardklop-fees in 2021 vir die eerste maal voor ’n gehoor aangebied word. Philip Rademeyer ontvang ook in 2020 die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks vir Opdrifsel.
Wat doen twee ouers ná die verlies van hul enigste kind? Mara en Bernard verloor hul tienerseun, Dylan, en daarmee saam hul idee van ’n familie, van normaal, van “ons”. Hulle rou op verskillende maniere en sukkel om mekaar te verstaan en te ondersteun. Hulle het baie vrae, maar geen antwoorde nie. Daar is verwyte, woede, hartseer, beskuldigings en toe deure. Daar is die eerste Kersfees sonder Dylan, die eerste herdenking van sy dood, hul vriende wat nie weet wat om te sê nie. Ten einde is Opdrifsel ’n verhaal oor twee mense wat hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer moet vind.
Marguerite Robinson (Netwerk24) skryf oor Opdrifsel: “Ja, ontvlug is goed, ontvlug is nodig. Maar in ongekende tye is daar veral ook plek vir verhale wat ’n skrefie oopmaak na dit wat jy jou nie kan indink nie. En so kry jy ’n belewenis van oomblikke van menswees wat jou lank gaan bybly.”
Koningin Lear
’n KKNK-produksie ondersteun deur NATi
Verfilm deur Thank you kindly, Bobby
1 Januarie 21:00, met heruitsendings op
5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00.
Beskikbaar tot 29 Januarie op Catch Up.
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Geen o.18 N T S G V
Tydsduur: 165 minute
Teks: Tom Lanoye, vertaal deur Antjie Krog
With Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
Produksiebestuurders: Amber Fox-Martin en Nicolaas de Jongh
Kostuumontwerp: Elaine du Plessis
Klankontwerp: Rynhardt van Blerk
Oudiovisuele ontwerp: Dawid Joubert
Koningin Lear is in 2019 opgevoer ter viering van die KKNK se 25ste bestaansjaar. Die produksie het daarna verskeie speelvakke gehad en die geselskap en produksie is met veeltalle pryse vereer. Antjie Krog het ook ’n Kanna- en KykNet Fiesta-prys ontvang vir die vertaling van die teks.
Koningin Lear is ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear, deur die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Elizabeth Lear het met die verloop van tyd haar klein besigheid tot ’n internasionale sakeryk opgebou. Elizabeth kondig aan dat die besigheid tussen haar drie seuns verdeel sal word en sy eis dat haar seuns onder eed hul liefde en trou aan haar verklaar. Haar jongste en geliefde seun weier en dit ontketen ’n familietwis van reuse-omvang. Dit is ’n verhaal van ’n bejaarde besigheidsvrou wat haar houvas op die werklikheid verloor, wat desperaat probeer om die storm wat om haar losgebars het te hanteer. ’n Epiese verhaal wat skerp kommentaar lewer op ’n hedendaagse besigheidswêreld, waarin integriteit en lojaliteit skaars kommoditeite geword het. Koningin Lear bring die room van Suid-Afrikaanse akteurs byeen om dié kragtige verhaal na die plaaslike verhoog en nou ook na film te bring.
ASEM
’n KKNK-produksie in samerwerking met NATI
‘n Thank you Kindly, Bobby-produksie
Ter nagedagtenis aan Reza de Wet
26 Desember 21:00, met heruitsendings op
3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00.
Beskikbaar tot 23 Januarie op Catch Up.
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Geen o.18 G S N
Tydsduur: 130 minute
Teks: Reza de Wet (Breathing In)
With Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt
Regie, ontwerp en vertaling: Marthinus Basson
Produksiebestuurder: Nicolaas de Jongh
Die filmweergawe van die bekroonde 2017-teaterproduksie is ’n unieke ervaring en eerder as om dit op die verhoog te skiet is die produksie in ’n plaasstal by die Worcester Museum (Kleinplasie) verfilm. Dit sorg vir ’n unieke film-ervaring van die verhoogproduksie.
Een donker, stormagtige aand gedurende die laaste bitter dae van die Suid-Afrikaanse oorlog, in ’n uitgebrande skuur van ’n plaas, lê ’n gewonde Boeregeneraal wat deur Anna, ’n kruiedokter van uitsonderlike magte versorg moet word. Haar aantreklike, maar bloedlose dogter, Annie, is ook besig om te veg vir haar lewe, maar het veel meer as haar ma se konkoksies nodig. Die generaal se dapper en getroue adjudant, gebrei deur die slagveld en die afgryse van oorlog, staan nou voor ’n verskriklike keuse en ’n nuwe onnoembare gevaar. In ’n wêreld waar mans, in die naam van patriotisme lewens en landskappe vernietig, moet vroue meer subtiele en misterieuse metodes ontwikkel om te oorleef. De Wet verweef digterlik en kragtig ’n verhaal van liefde in ’n tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike. Reza de Wet is nege jaar gelede op 27 Januarie 2012 oorlede. Hierdie is ’n huldigingsproduksie aan een van Suid-Afrika se belangrikste en mees invloedryke toneelskrywers.