WES-KAAPSE REGERING

KKNK-2017-sponsors-web-Borgeboodskappe-fotos-250x250-WeskaapRegering

Baie hartlik welkom in die veelbesproke en veelbelowende Verestad om die 23ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees te beleef. Die 2017-program is inderdaad vol beloftes van ’n heuglike, onvergeetlike belewenis vir elke feesganger. Ek glo die kunstenaars, regisseurs en vervaardigers het hard gewerk om oor die volgende paar dae hierdie beloftes ’n werklikheid te laat word. Die Wes-Kaapse regering ondersteun al vir etlike jare die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en hierdie jaar is geen uitsondering nie. Ons is met graagte weer een van die fees se borge. Danksy Rhodé Snyman en haar span kan die feesgangers beslis hul tande slyp vir ’n veelsydige kuns- en kultuuraanbod. Kom geniet en beleef ’n heerlike mengelmoes van produksies, musiekvertonings, uitstallings, praatjies en veel meer. Kom loer gerus ook in by ons stalletjies. (Kyk uit vir die blou Wes-Kaapse logo en naamborde). In sy lied Karoonag besing Coenie de Villiers die reuk van “katbos en kambro, as dit reën in die Klein Karoo”. Ek reken ’n mens sou hierdie kosbare lirieke kon aanvul met ’n paar ander aangename reuke, klanke en geure as dit feestyd is in die Klein Karoo. Kunstefeestyd. Klein Karoo Nasionale Kunstefeestyd, om spesifiek te wees. Namens die Wes-Kaapse regering wens ek julle vanjaar ’n verruklike fees en ’n baie besonderse belewenis toe. Koester die opwinding voor elke teaterstuk, verlustig julle in die visuele kunste, skep behae in die ander feesgangers, verkneukel julle in die skouspel… belééf dit. Hier op Oudtshoorn word herinneringe in feestyd opgebou. #BeleefDit!

Helen Zille
Premier: Wes-Kaapse regering

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?