Vol sirkel vir dié rock chick

karen

Kontemporêre musiek: Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band

Ilza Roggeband

Die eerste kunstenaar wat haar gekontak het om met haar saam te werk, was Johannes Kerkorrel.

’n Sigbaar emosionele Karen Zoid het Maandagaand onthou van die dae toe sy die jong rock chick van Afrikaanse musiek was en sy die oproep van Kerkorrel gekry het. Om dus saam met drie van die lede van die Gereformeerde Blues Band op te tree, was as’t ware ’n volle sirkel in haar loopbaan. Die musikante wat vir haar ’n ander wêreld in Afrikaans oopgemaak het, was nou haar gelyke op ’n verhoog.

Die Burgersentrum was gepak. Die gemiddelde ouderdom van die gehoor dalk ouer as wat ’n mens sou dink. Was die gryskop man daar omdat hy Voëlvry onthou? Was die vrou met die brilletjie daar omdat sy ’n ander kant van Zoid leer ken het in haar program Die Republiek van Zoid Afrika?

Wie weet, maar teen die einde was almal op hul voete, sommige met hande bo die kop en ’n wikkel in die heupe.

Zoid het met respek met die musiek van Kerkorrel omgegaan en haar verwerkings van sy musiek was in die kol. Gary Herselman (Piet Pers), Jannie “Hanepoot” van Tonder en Willem Möller, die drie lede van die oorspronklike Gereformeerde Blues Band, het gewys waarom hulle jare ná Voëlvry steeds hul plek op enige verhoog kan volstaan. Ook Zoid se eie groep (Schalk van der Merwe, Tim Rankin, Kyle Peterson, Henry Steele) het bygedra tot ’n rock-ondervinding soos min, ook met haar eie werk wat deel van die konsert was.

Zoid het gesê hierdie was die laaste keer wat hierdie konsert gaan gebeur. Wat die rede is, is nie duidelik nie. Dit sal tog baie jammer wees. Hierdie is ’n stuk Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis wat verdien om wyd gesien en beleef te word.

Bravo aan almal betrokke.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?