Vang jy dit? Nie? Bel dan maar die ACVV-taxi

Ilana Cilliers Foto Jaco Marais

Piekniek by Mpande née Dingaan

Herman Lategan

Die eerste woorde wat by ’n mens opkom as jy na hierdie sterk ensemble-rolverdeling en die visuele impak van die stel, klere en rekwisiete op die verhoog kyk is: Sexy, modern, jonk, vars, kragtig, bruisend, psigedelies en woes.

En ’n fok jou attitude. As dít jou nie tref nie, dan is jy jaded, afgestomp, jou ennui het jou verlam. Pak maar jou hekelwerk, motballetjies, goedkoop Clicks-leesbril, bel die ACVV-saamryklub, gaan ouetehuis toe en moet nooit weer huis toe bel nie. Hamba! Bye.

Die musiek, sang, spel, hele gevoel is asof iemand ’n blinkskerp mes saggies teen jou sagte keel druk en liggies, liggies sny – en dit jou nogal opgewonde maak. Gevaarlik, maar, jislaaik, dis lekker, fluister jy. Jy weet nie hoekom nie, maar staan nader, ek like jou lem en jou wulpse asem hier teen my mond.

Soos Marlo Minnaar se een karakter sê: “Jy’s dalk voëlvry, maar jy sal nooit vry van jou voël wees nie.” Metafories natuurlik, of dalk nie. Want soos die Engelse sê, die bottom line is, net soos die politiek verander, en jy vry voel van die verlede, kom daar weer ’n nuwe stel hokke wat jy moet ratel om uit te kom.

Dis ’n kaleidoskopiese ervaring van kleur en emosies, amper soos Claude Monet of Pierre Auguste Renoir se impressionistiese skilderye. Die karakters hol rond, praat, sing en hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie.

Dis ’n heerlike opstuurdery van hedendaagse Suid-Afrika, die getjommel oor polities-korrekte koeterwaals in die gange van verfyning en pedagogie, wit en swart mense wat heeltemal verby mekaar praat, bevoorregting, slagoffer-psigose en van alles en nog wat (soos Esmé Euvrard altyd op So maak mens, destyds op Springbokradio gesê het).

Daar is ook wonderlike kostuums wat aan die Burleske grens, ’n video van ’n dorre landskap vanuit ’n vliegtuig wat jou laat voel jy is besig om uit die lug te tuimel, en as jy val gaan daar niks van jou oorbly nie. Net bloed en binnegoed op warm klippe.

Hierdie is natuurlik ’n aweregse blik op die ou Piekniek by Dingaan, maar vergeet daarvan, dis so post-post-modern, plek-plek intertekstueel en stapelgek, dit maak nie saak nie. Om een persoon se naam te noem is onregverdig, almal span saam om hierdie produksie suksesvol oor die berge te trek.

Die naam? Op LitNet vertel die regisseur Wolf Britz: “Mpande kaSenzangakhona was Dingaan se opvolger, net soos ons stuk ook ’n opvolger van die oorspronklike teks is.

“Die née tussen die twee is aanduidend van ’n tipe huwelik. Omdat Dingaan en Mpande ook beide leiersfigure was, is hulle dus ideaal vir ’n kabaret wat kyk na mag en hoe ons humor kan gebruik om mag te ondermyn. So dra ons dus deur ’n paradoks nuwe inligting aan die gehoor oor.”

Die retoriese vraag is natuurlik, hoe het jy gevoel toe jy by die teater uitloop? Die akteur Johnny Depp het die skrywer Hunter S. Thompson se as ná sy dood deur die loop van ’n kanon in die lug afgevuur. Boem! Dis dáái gevoel.

Musiekteater. Gimsaal. Vandag om 09:00, Wo. om 09:00, Do. om 16:00, Vr. om 16:00 en Sa. om 16:00.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?