Ton Vosloo: Het die KKNK ’n toekoms?

ton

Op hierdie 23ste KKNK het die baniere oral gepryk: Kuns Wen.

Inderdaad, ’n mens kon sommer voel aan die bruisende atmosfeer in die lug dat kuns aan die orde is, kuns in al sy diversiteit. Maar vir die ervare feesgangers was daar tog ’n gevoel van beklemming. Dit is ’n feit dat die getalle, feesgangers, voete en motors na Oudtshoorn jaarliks afneem. Daar is verskeie redes. Die grootste is seker dat die uiters suksesvolle Woordfees op Stellenbosch invreet op die aanbod van Oudtshoorn. Mense van die Boland wat ander jare die pelgrimstog na die KKNK onderneem het, besoek Stellenbosch se fees uit huise uit. Dan het die sukses van die KKNK die geesdrif elders aangevuur, met feeste soos Aardklop op Potchefstroom, Innibos op Nelspruit en die Vrystaat Fees in Bloemfontein.

Dit is die negatiewe kant van die saak. As kuns inderdaad moet wen, is daar verskeie wenke wat ’n mens aan die hand kan doen. Die eerste is om te kyk na die toneel ter plaatse. Toe die eerste fees begin het, was daar net een gastehuis op die dorp. Vandag is daar talle. Die hele omgewing blom as gevolg van die inspuiting wat toerisme meebring, nie net as gevolg van die KKNK nie, maar ook danksy die vele trekpleisters van die Klein Karoo. Maar die kinkel in die kabel is dat baie van die hospitas gulsig geword het en die KKNK sien as ’n geleentheid om room af te skep. Miskien moet die bestuur van die KKNK ’n oktrooi met die gastehuise aangaan dat hulle vir die duur van die fees ’n standaardtarief hef wat mense aanmoedig om te kom kuier.

Die KKNK het Oudtshoorn se grootste geldelike inspuiting geword. Hopelik besef die nuwe raad dit en bewillig hy meer om die dorp ontvanklik te maak vir feesgangers. ’n Voorstel: Wat van ’n moratorium op parkeerkaartjies in die feesdae?

Die nuwe streekhoof van Absa het dié week op haar eerste besoek aan die KKNK die wenk gegee dat die feesprogram ’n kort opsomming van die verhoogstuk in Engels kan insluit. Dan weet nie-Afrikaanstaliges waaroor ’n stuk gaan. As die hoofborg praat, moet ’n mens seker luister. Wat van byvoorbeeld elektroniese boskrifte by stukke? Dis tegnies baie maklik.

Maak dit inderdaad ’n nasionale fees en bied parallelle dramas en skeppinge aan en reik uit na die nie-Afrikaanstalige gemeenskappe. Dit gaan net die fees soveel groter maak. Dit is ook ’n manier om gekleurde kunssinniges te nooi om ’n Suid-Afrikaanse bewussyn te versterk. Dit kan die rasgebaseerde retoriek deur politici in hierdie dae teenwerk.

Die oorspronklike KKNK en ook sy telge is gebore uit die gevoel van verlies wat die Afrikaanse gemeenskap ná 1994 se politieke omwentelinge ervaar het. Dit was ’n regte inspuiting op die regte tyd. Maar 23 jaar later kan ’n mens met stelligheid sê ons gehore het meer volwasse geraak en die digitale tegnologie het ons almal ingesuig in ’n nuwe kommunikasiemodus. Die verbreding van die aanbod oor taalgrense kan net nuwe lewe vir die KKNK skep. Die aanwending van die selfoon as deel van die drama was reeds merkbaar in party opvoerings. Dit skep nuwe lewe.

Om sy ore het die verkope van die hoofmediaborg, Media24, erg gedaal. Dit is ’n wêreldwye verskynsel met gedrukte media. Maar dit beteken nie Media24 moet sy aanbod verklein nie. Dit het my opgeval dat daar baie minder verkopers van Die Burger op straat was. Waar was die bemarkers? As hulle hul plig gedoen het, sou elke gastehuis en hotel elke oggend ’n stel van dié koerant gekry het om te verkoop aan feesgangers. Waar was die redak­-teurs van publikasies om hul produkte uit te dra? Net ’n paar het die vlag kom swaai. Ek is krities oor my vorige kollegas, maar ek is passievol oor die fees en my ou maatskappy en ek wil hê die wil om te wen moet hier deurslaan. Ons leef in ’n erg onsekere wêreld.

Feesgangers moet besef dat as hulle sake wat vir hulle na aan die hart lê behoue wil hê en wil sien dat dit groei, moet hulle self die inisiatief neem. Dán kan KUNS WEN, tot almal se voordeel.

Deur Ton Vosloo, beskermheer van die KKNK en voormalige voorsitter van Naspers, wat in 1993 die eerste skenking bewillig het wat gelei het tot die eerste fees in Oudtshoorn in 1994.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico

Log in with your credentials

Forgot your details?