Tiener se kreatiewe klip lei tot Absa-kans

klippe

Marchelle van Zyl

Die Absa Klipaktivering se kunsprojek laat die kwaste waai. Verf drup en kunstenaars word gebore. En raakgesien, soos in die geval van Lonél Fivaz (17), ’n matriekleerling van Oudtshoorn.

Lonél werk as promotor by die klipverfstalletjie in Baron van Reedestraat, waar sy self ’n paar klippe geverf het. Adam Brooke, Absa se borgbestuurder, was op soek na mooi klippe om as presente weg te gee. Hy sien toe twee besonderse klippe. Dis toe al die tyd Lonél s’n.

“Hy vra my toe om nog ’n klip te verf. Ek het nog nooit so iets gedoen nie,” vertel Lonél skaam. En die klip wat sy toe verf, is só mooi dat Brooke haar na die kurator van die KKNK se visuele program, dr. Paul Bayliss, neem. Hy is so beïndruk deur Lonél se werk dat hy nou gaan help om haar in haar kunsloopbaan te ondersteun. Sy neem kuns as vak, maar hy wil ook vir haar ’n mentor kry wat haar hier op die dorp kan help.

Brooke sê Absa is baie opgewonde om sulke jong kunstalent by die KKNK te ontdek. “Ons doel is om die kunste te groei en ons is opgewonde vir die geleentheid om ’n talent soos Lonél s’n te ontwikkel en hopelik haar loopbaan te sien floreer.”

“Absa wil my nou Johannesburg toe vlieg!” vertel sy opgewonde. Daar sal sy die Absa L’Atelier-kompetisie as gas besoek, asook die Absa Galery. Sy sal ook vir Liberty Battson ontmoet, kurator van The Confessional en 2014 se L’Atelier-wenner.

So, wat hou die toekoms vir haar in? Lonél wil onderwys gaan studeer en dit met haar kuns kombineer.

“Ek het nooit gedink dat een klip my só ver sal bring nie.”

En wat het sy uit hierdie hele ondervinding geleer?

“Die klein goedjies tel!”

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?