Thamm en Maas stoei oor Afrikaner-gene

deon

Marlene Malan

Gooi ’n pavement special en ’n “antwoord op ’n Huisgenoot-blokraaisel” saam, en daar word bespiegel oor of ’n sekere deel van die man se anatomie met een of twee l’e gespel word, oor die rol van Truman Prince en van regses in ons politiek, en oor die stryd tussen seks en godsdiens.

Kombineer Deon Maas, skrywer van Melk die heilige koeie, en Marianne Thamm, sy gespreksleier en skrywer van Hitler, Verwoerd, Mandela and me, en die vonke spat. ’n Deel van die gehoor sit doodstil, met ’n effense fronsie en kuggie, en die res skaterlag as Maas die gehoor van honderd persent Afrikaners (bepaal volgens Thamm se versoek tot hande opsteek) in die spieël laat kyk.

Thamm het gesê haar voorgeslagte is so ’n deurmekaarspul, sy kan as ’n pavement special geëtiketteer word. Maas het gesê hy was al vyftien jaar aan’t skryf, maar was eers werklik iemand toe hy ’n antwoord in ’n Huisgenoot-blokraaisel geword het.

Maar hy was sy lewe lank iemand wat uitdaag en krap waar dit jeuk en nié jeuk nie. Tog, volgens eie getuienis, was hy nog maar altyd iemand wat net eerlik is teenoor homself (en ander). Hy is die ewige waarnemer en gaan nêrens heen sonder dat hy nie dink en filosofeer daaroor nie. Maar, volgens Maas, fassineer feite hom. “Ek is ’n feite- en geskiedenis-fan. Op skool, toe my vriende plakboeke oor rugbyhelde gemaak het, het ek plakboeke gemaak oor Idi Amin en Haile Selassie. Dis geverifieerde feite, hoor!”

Melk die heilige koeie is ’n boek wat in sy kop ontstaan het toe hy eintlik graag ’n boek vol kortverhale wou skryf oor “hoe om die opelyf te verbeter”. Maar sy uitgewer wou nie byt nie, en wat gevolg het is ’n boek oor die Afrikaner se hardegatgeit, omdat hy “die dwarstrekker-geen” in die spulletjie wou uitpluis.

Hy is deel daarvan, erken hy. “Ons almal hier het in ons voorgeslagte iemand wat altyd vasgesit het met sy buurman” en dan padgegee het – ver weg, “sommer oor die Drakensberge, nie na die erf langsaan nie. Dis daardie geen waarvan ek praat. Dis ingeburger, dis deel van ons DNS”.

Dat hy trots is op Afrikaans en sy Afrikanerskap, is ongetwyfeld. Maar dis ’n nuwe Afrikanerskap – een wat nie eenogig na die wêreld kyk nie, maar graag luister na ander se menings en oortuigings. Dit nie altyd aanvaar nie. Dit het hy by sy pa, wat onlangs oorlede is, geleer. “My pa se houding was altyd dat jy jou eie mening moet hê, gegrond op navorsing en kennis, en dit kan jy aan ander oordra sonder om hulle te probeer oortuig, maar ander moet weet wat jy dink.”

Tog, sy pa se “meesterplan” vir hom het nie altyd uitgewerk nie, want daar was baie ander triggers in sy lewe, vertel hy. “Daar was die 1976-onluste, daar was die Rand Daily Mail wat ek begin lees het, daar was die weermag, waar ek vrae geleer vra het.”

Een van die dae trek hy saam met sy vrou Berlyn toe.

“Ek loop nie uit die land oor ek wil nie. Maar ek het ’n vrou wat ’n high-end-werk daar gekry het. Ek is bang, ja, maar dis nou ’n nuwe set-up vir my. Dis die grootste geskenk, want ek kan nou twee jaar lank konsentreer op my skryfloopbaan. Op die ouderdom van 55 begin ek met ’n nuwe lewe.”

Hy wonder hoe die Europeërs oor hom as “wit immigrant” gaan dink, wonder Maas. “Daar’s ’n sekere vryheid en ritme in die chaos van Afrika wat ek sal mis.”

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?