Tekste Vir Eerste Teksmark Aangekondig

teks-pr

Die 14 tekste vir die eerste Kunste Onbeperk Teksmark is bekendgemaak, saam met dié opwindende aankondiging, dat die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) beslis een van tekste in 2018 tot ’n produksie gaan ontwikkel.

Die 14 tekste wat gekies is om aan die Teksmark deel te neem is Melk en Vleis deur Marina Albertyn, Abel deur Ricardo Arendse, Fees deur Ludwig Binge, Oculus deur Wilken Calitz, Rendezvous deur Rachelle Greeff, Prey deur Pieter Jacobs, Dans van die Watermeid deur Amee Lekas, Die Ramparty deur Deon Maas, Duiwelshoek deur Albert Maritz, Vat aan my deur Alma Nel, Portret van Dorian Gray deur Phillip Rademeyer, Kaalvoetspoor deur Sjaka Septembir, Freaks deur Ingrid Winterbach en Cradle deur Stephina Zwane.

“Die Teksmark bring uiteenlopende rolspelers in die bedryf byeen om samewerking tussen die feeste en teaters verder te bevorder. Die platform maak dit vir skrywers die moeite werd om nuwe werk vir die verhoog te skep en deur daadwerklik saam te werk, bou rolspelers  gesamentlik aan die Suid-Afrikaanse teaterbedryf”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.

Die 62 inskrywings is deur ’n paneel bestaande uit Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, Saartjie Botha (US Woordfees) en Ismail Mahomed (Market Theatre Foundation) beoordeel.

“Ons is verskriklik opgewonde oor die temas wat deur die skrywers aangespreek word. Dit is duidelik dat ons dramaturge geroepe voel om ’n Suid-Afrikaanse problematiek aan te spreek wat verskillende gemeenskappe op verskillende wyses raak”, sê Faasen.

Sy het bevestig dat NATi een van die teksvoorstelle tot volwaardige produksie gaan ontwikkel in 2018. “Die ontwikkeling van tekste met ’n vars, relevante aanslag bly een van ons hoofmandate”, vertel sy. Die gekose teks, word by die Teksmark se afsluitingsfunksie aangekondig.

Botha sê: “Die kwaliteit van die inskrywings was oor die algemeen goed, met interessante nuwe stemme wat hard praat. Van die tekste het ’n vreeslose bestekopname en ander ’n baie kritiese blik. Van die stukke vertel stories wat voorheen nie op verhoë vertel is nie. Dit maak my opgewonde oor die toekoms van teater.”

Volgens Mahomed is die Teksmark een van die mees vooruitstrewende teksskryf-ontwikkelings-inisiatiewe, daarop gemik om nuwe tekste te identifiseer, ontwikkel en geleenthede vir die skryf van nuwe werk in Suid-Afrika te skep. “Dit is ’n positiewe bydrae tot die kreatiewe ekonomie en sterk tekste in diverse style is ontvang.”

Tydens die Teksmark kry skrywers ’n geleentheid om oor hul tekste te gesels, waarna ’n uittreksel as leesteater opgevoer word. Verteenwoordigers van feeste, teaters en ander rolspelers in die kunste kan daarna direk met skrywers onderhandel oor moontlike belegging in en verdere ontwikkeling van die tekste.

“Die Kunste Onbeperk Teksmark beweeg weg van ’n kompetisie en skep ’n platform om meer moontlikhede, geleenthede en ondersteuning aan verskeie skrywers – gevestig en nuut – te bewerkstellig. Ons beoog om die Teksmark ’n jaarlikse instelling te maak en om verdere ondersteuning met werkswinkels en slypskole te bied”, sê  Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk.

Die Teksmark word op Maandag, 31 Oktober vanaf 13:00 en Dinsdag, 01 November vanaf 10:00 in die Baxter Teatersentrum aangebied. Sewe tekste word elke dag aangebied. Dinsdag se verrigtinge begin met ’n gespreksforum oor die uitdagings vir teksskrywers in Suid-Afrika en hoe die industrie teksskrywers moet en kan ondersteun. Die verrigtinge eindig met ’n afsluitingsfunksie.

Kunste Onbeperk se Teksmark word ondersteun deur die Nasionale Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter Teatersentrum.

Die publiek is baie welkom om die Teksmark by te woon. Vir meer inligting kan Lynne Baptiste by [email protected] of 044 203 8600 gekontak word.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?