Spesiale KKNK-Kuierbuurt promosie verleng

KKNK-2018-web-images-strip-06-Kuierbuurt

Die KKNK se spesiale Kuierbuurt-promosie op Oudtshoorn is met ’n week verleng. Oudtshoorniete wat nie vroeër vandeesweek winskoop-kaartjies kon opraap nie, het nou tyd tot Donderdag, 1 Februarie om van dié spesiale aanbieding gebruik te maak.

Weekkaartjies vir die KKNK se splinternuwe Kuierbuurt (die feesterrein, voorheen bekend as die Rivierbuurt) word tot Donderdag, 1 Februarie by Kunste Onbeperk se kantoor (Die Neelsie, Jan van Riebeeckweg 217) tydens kantoorure verkoop.

“Ons moedig alle Oudtshoorniete aan om hierdie eksklusiewe Kuierbuurt weekkaartjie-aanbod te koop, om sodoende seker te maak dat hulle ál sewe feesdae kan feesvier”, sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.

Die nuwe Kuierbuurt, geleë op die Oudtshoorn Sportgronde en die Vredestraat Sportterrein, bied hope vermaak vir die hele gesin en is die tuiste van o.a. die Kunsmark se stalletjies, die Huisgenoot-verhoog met topkunstenaars en nuwe stemme wat saans vermaak onder die Klein Karoo-sterre verskaf, die Castle Lager-verhoog waar musiek deur die dag aangebied word, Liplekker se heerlike wyn en deli-produkte, ATKV-Speelbos met hope doendinge vir die jongspan, waaronder Uitkampteater-produksies en ander kroeë en rusareas.

“Weekkaartjies vir die Kuierbuurt word tot 1 Februarie teen slegs R175 per kaartjie verkoop teen ’n besparing van R80 per kaartjie. Dit is die ekwivalent van slegs R25 per dag vir ál die topvermaak in die feesterrein,” verduidelik Theart.

Die aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog, wat in die formaat van piekniek-ervarings aangebied word, sluit onder meer in: Awê Kaktus (29 Maart 19:30) met Mi Casa, Spoegwolf, Mathew Mole en Majozi; kykNET – Dans op die vlaktes (30 Maart 19:30) met Kurt Darren, Leah, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols) Germandt Geldenhuys (Binnelanders), Nadia Beukes (Getroud met rugby), Stephanie Baartman (Getroud met rugby) en ander; Karoo-nag (31 Maart 19:30) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace en Fatman; Boontoe: Engelstemme (1 April 19:30) met Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes, Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe; Sterrenag – Musiek met hart (2 April 19:30) met Jay, Leah, Pieter Koen, Willem Botha, Lee Scott en ander; en Rymklets van Oos tot Wes (3 April 19:30) met HemelBesem, Yoma, Early B, Oxijin, DJ J-EFX, Yugi Yo en MC IXA. Feesgangers kan hulle eie stoele en ’n kombers bring om ’n heerlike aand hier te geniet.

Theart sê hierdie winskoop-kaartjies is tot Donderdag, 1 Februarie in kantoorure by Kunste Onbeperk se kantoor in Die Neelsie, Voortrekkerweg 217 beskikbaar. Daar is geen beperking op die aantal kaartjies wat per persoon gekoop kan word nie. Kaartjies kan kontant of met ’n kaart gekoop word.

“Ons hoop om nog talle Oudtshoorniete voor volgende Donderdag by ons kantoor te verwelkom,” sluit hy af.

Die feesprogram van die 24ste KKNK is beskikbaar hier en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Die KKNK word oor Paasnaweek van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April op Oudtshoorn aangebied.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?