Sjarme oorrompel in ‘Fez’

chris

Willem Bester

In dié verligte dae waar Islam die bête noire van regses die wêreld oor geword het, is dit belangrik om in Die vlammende fez iets op die planke te hê wat die Kaapse Maleierkultuur as onderwerp het. Die merkwaardige werk van die Afrikaanse skrywer, digter en akademikus I.D. du Plessis, wat in die vroeë dekades van die twintigste eeu dié gemeenskap se vertroue gewen en ’n eksponent van hul kultuur geword het, vorm die basis van die produksie.

Dit is moeilik om Die vlammende fez in een genre vas te vang. Dis ’n soort vier-in-een kabaret: voordrag deur Chris van Niekerk; sketse en sang deur Loukmaan Adams, Carlo Daniels, Gary Naidoo, Bianca Flanders en Liebschen Saal; ’n tradisionele Kaapse Maleier-sanggroep; en die eklektiese klanke van Mr Cat and the Jackal. Gertjie Besselsen was vir die komposisies verantwoordelik, en Lindi-Heila Smit het die teks versorg.

Dit is maklik om te veralgemeen en te verwys na die bruin of Moslem-gemeenskap, asof enige kultuurgroep met ’n enkele etiket vasgevang kan word. “Hoe gaan ek haar laat verstaan dat daar baie tipe bruin mense is?” word inderdaad op die verhoog gevra. Hier is mense wat plesier vind in tradisionele stories en die Hollandse liedjie “Rosa”, maar ook konsert hou met “Three little maids from school” uit The Mikado.

Van Niekerk is ’n heuningsoete voordraer in bekende gedigte soos “Vreemde liefde” en “Karnaval”. Die vyfstuks van Adams, Daniels, Naidoo, Flanders en Saal is ewe tuis as sangers en as akteurs. ’n Geanimeerde Besselsen en sy orkes sorg vir ’n paar heerlik moderne nommers tussen die meer tradisionele werke. Dis egter die tradisionele sanggroep wat, met grepe uit ’n tipiese Maleierkoorkompetisie, die grootste – en ’n welverdiende – applous amper teen die einde ontlok het.

’n Mens kom diep onder die indruk dat die Bo-Kaap soveel meer is as net ’n toerismekommoditeit van mooi gekleurde huisies en dat die kultuur verder reik as ’n optog met Tweede Nuwejaar. Juis in daardie tyd van politieke ontmagtiging was die enigste werklike vryheid dié van geloof.

Die vlammende fez oorrompel jou met sjarme. Dis so Kaaps soos winterreën of ’n wolkkombers oor Tafelberg.

Soos Smit in ’n onderhoud op LitNet verduidelik het, is die rooi fez ’n simbool van hoop – en medemenslikheid, wil ’n mens byvoeg.

In die woorde van Du Plessis: “bloedrooi ryk, beloftevol, streep dit soos die vurige koeël, wat die donderwolke kwes. Die vlammende fez.”

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico

Log in with your credentials

Forgot your details?