‘As Sandra kan, kla ek nie’

koninkryk

In die laaste aflewering in ons reeks oor jong teatermakers het Herman Lategan gaan uitvind wat Ludwig Binge alles by vanjaar se KKNK doen.

In hoeveel stukke tree jy op? Kan jy die name noem en kortliks waaroor elkeen gaan?

Piekniek by Mpande née Dingaan is ’n kabaret wat in gesprek tree met die destydse Piekniek by Dingaan van die laat tagtigerjare wat deur Kruik opgevoer is. Dit ondersoek veral Afrikaneridentiteit en tot watter mate Afrikaanssprekendes deelneem aan die hedendaagse Suid-Afrika.

Dit is egter nie, soos baie mense verwag, ’n huldeblyk aan Johannes Kerkorrel en die Voëlvry-beweging nie. Dit vra eenderse vrae, maar protesteer nie teen die NP-regering en Apartheidsbeleid nie. Soos meeste kabarette gaan dit oor wat nóú aan die gang is.

Die Koninkryk van die diere is ’n vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Das Reich der Tiere. Dit is ’n offbeat-komedie oor akteur-wees. Vyf akteurs voer al vir ses jaar die fabel Die koninkryk van die diere op. Die insecurities en obsessies van hierdie kwesbare siele word tussen tonele in hul kleedkamers uitgespeel, terwyl hul eie verhaal uiteindelik parallel loop met dié van die fabel s’n.

Vertel ook kortom van jou karakters asseblief.

In Piekniek vertolk ek verskeie karakters. Hulle is meer voorstellend van aard en nie volrond nie, maar deurlopend verteenwoordig ek die stemme van manlike Afrikaner-magsfigure wat desperaat probeer vasklou aan ’n tyd toe die Afrikaner nog magtig gevoel het.

In Koninkryk speel ek Frankie, wat die sebra speel in die fabel. Frankie is energiek en entoesiasties en neem sy werk baie ernstig op. Wanneer die geselskap uitvind dat die bestuur die fabel gaan afhaal, is Frankie die een wie se oorlewingsinstink die sterkste inskop.

Hoekom moet feesgangers na hierdie stukke kom kyk?

Albei stukke is geweldig vermaaklik. Altwee vereis ’n ligter aanslag, maar het baie belangrike goed om te sê, en albei is maklik om mee te vereenselwig.

Hoe bly jy gefokus tussen al die produksies – om van karakter na karakter te moet oorskakel, is seker ’n nagmerrie?

Om behoorlik op te warm is vir my nogal belangrik. Nie net om jou instrument reg te kry nie, maar dis ’n psychological ding. Jy kry jouself in work mode.

Uit ’n praktiese oogpunt, hoe behou jy jou stamina en hoe kyk jy na jou gesondheid en psige gedurende hierdie tye?

’n Middagslapie is ’n wonderbaarlike ding. Maar ook, ek is nog jonk, as Sandra Prinsloo op haar ouderdom so goed cope met drie vertonings, kan ek nie eintlik kla nie.

Hoeveel feeste pas jy in hierdie jaar? Is daar tyd tussenin om darem asem te skep? Is dit moontlik om ’n private lewe te hê as dit so by tye wild gaan?

Ek is nog nie 100% seker na watter feeste ek gaan nie. Dit is wel moontlik om ’n private lewe te hê. Daar’s tye wanneer die werk min is en dan het ’n mens baie tyd vir jouself. Feestyd is egter druk besig.

As jy nie by ’n fees is nie, waar is jou basis? Verlang jy nie by tye na jou eie kooi en rustigheid nie?

Ek woon in Kaapstad in die Gardens/Oranjezicht-omgewing. Nee wat, tien dae van die huis af is nie so erg nie.

Laastens, raad oor teateretiket asseblief. Wat maak ’n akteur waansinnig van sekere gehore se gedrag?

Selfone wat afgaan, mense wat goed na die verhoog skree (iemand het nou die dag vir Stian Bam geroep terwyl ons reeds besig was, ai) en laatkommers. Alles baie steurend. Ek dink omdat dit vermaak is, voel mense dat hulle kan ontspan en besef hulle nie altyd dat dit ons wérk is nie. Ek kom nie na jou kantoor toe en praat kliphard op my selfoon terwyl jy in ’n vergadering is nie. Maar ek voel wel dis die minderheid. Meeste feesgangers woon die vertonings by omdat hulle daar wil wees en die werk respekteer.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?