Reza de Wet – Haar Lewe en Werke

REZA DE WET WERKE EN BIOGRAFIE

Deur: Danie Stander

Reza de Wet (1952 – 2012), Suid-Afrika se mees bekroonde dramaturg, word plaaslik en internasionaal erken vir haar merkwaardige en omvangryke oeuvre. Sy is al bestempel as die “vroulike Fugard” en die “Afrikaanse Tsjechof”. Onder andere verwerf sy die Hertzog-prys, twee maal agtereenvolgend, die eerste skrywer wat hierin slaag, en slegs die tweede vroulike dramaturg wat dié prys ontvang vir drama. ’n Teater-fees is na haar vernoem, haar werke is voorgeskryf vir matriek Afrikaans en Dramatiese Kunste leerders en vorm deel van die kurrikulum van elke dramadepartement in Suid-Afrika. Haar stukke is reeds in elf tale vertaal en met groot sukses vervaardig in die VSA, die VK, België, Griekeland, die Lae Lande, die Tsjeggiese Republiek, Hongarye, Japan en Suid-Korea. Gordon Dickerson, haar Londen-gebaseerde literêre agent, wat o.a. die werk verteenwoordig van John Osborne, Tom Stoppard, Christopher Durang, David Storey, Iris Murdoch, Michael Frayn en Tony Harrison, ag De Wet “every inch their equal” en verwys ook na haar Britse uitgewer James Hogan, se opmerking dat sy sy gunsteling skrywer is.

Binne die wettiese maar bestendige huishouding van haar vader, H.F. de Wet, die destydse regter-president van die Vrystaat, word Reza se kreatiwiteit ontsluit deur veral drie belangrike moederfigure: haar ma Tawty (Elizabeth Mary née Marais), haar ouma aan moederskant Frederica (Rousseau), en haar moeder se Sotho huishulp, Betty Motsamai. De Wet beskou Betty as haar tweede ma en besoek haar later, as volwassene, jaarliks tot en met Bettie se dood. Sy koester herinneringe aan Betty se wiegeliedjies, vreesaanjaende slaapstories en magiese ritueeltjies. Haar moeder en ouma is beide begaafde maar onverworde sangers en De Wet herroep hul resitasies as haar vroegste en belangrikste kontak met die transendentele kapasiteit van teater. Tydens skoolvakansies woon sy by Frederica op Senekal wat vir haar “die wonderlikste plek op aarde” word. Tawty neem Reza graag na die sirkus, en sy kweek haar passie vir die verhoog by Reza op vierjarige ouderdom reeds wanneer sy haar neem na ’n opvoering van Uys Krige se Die Goue Kring, Reza se eerste volwaardige teaterkontak. Tawty se liefde vir sprokies sorg ook dat die verhale van die Grimm Broers en die gedigte en spookstories van Eugène Marais (’n familie-verwantskap) dien as literêre moedersmelk.

De Wet studeer drama aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy sonder veral die invloed uit van Henk Hugo, wat haar oplei in die toneelspeltegnieke van Konstantin Stanislaviski. Sy voltooi haar dramagraad en voer dit verder met ’n honneurs in toneelspel by UCT onder die mentorskap van Professor Robert Mohr, die gevierde Tsjechof-regisseur. Tussen Hugo en Mohr word De Wet se lewendige belangstelling in Russiese teater, wat vir haar op vyftien reeds gevestig is, versterk en verfyn. Mohr bestempel haar as ’n gebore Tsjechof-aktrise en hy lei haar op met die ikoniese rolle van die dramaturg se Vier Groot Dramas, Die Seemeeu, Drie Susters, Oom Wanja en Die Kersieboord.

Teatervervaardiger Mannie Manim, destydse mede-uitvoerende hoof van Truk, onthou De Wet se oudisie vir Truk klokhelder en beskryf haar talent as so uitsonderlik in standaard as uniek in aard. Op daardie stadium het Truk pas ’n eksperimentele jeug-teatergeselskap gestig onder leiding van Ken Leach. Meeste van die jonger akteurs was hoofsaaklik op hierdie platform geakkommodeer, maar De Wet vertolk reeds in haar eerste Truk-jaar hoofrolle in die amptelike geselskap met groot lof. Tog was die jeuggeselskap ook ’n dinamiese slypskool vir De Wet se kreatiewe impulse. Teen die agtergrond van die destydse internasionale boikotte is die jonger lede aangemoedig om hul eie werk te skep en te ontwikkel. Hier ontmoet De Wet haar toekomende man, Lindsay Reardon. Hy onthou haar eiesoortige bydraes tot die werkswinkelstukke. Reza maak met Reardon kennis in ’n kreatiewe konteks en vir die res van haar lewe bly hy haar belangrikste adviseur en ondersteuner as speler en skrywer. Later word hy met Manim medestigter van die Markteater en regisseer hy De Wet ook in Auguste Strindberg se Mis Julie waarvoor sy besondere kritieke eer ontvang. Terugskouend sou De Wet later haar ondervinding as aktrise beskou as die “belangrikste ervaring wat skryf aangaan – om binne ’n stuk in te kom”.

Wanneer De Wet ma word besluit die paartjie om die onvoorspelbare akteurslewe en die gejaagdheid van die stad te verruil vir ’n stiller akademiese bestaan op Grahamstad. Teen hierdie tyd het sy onder leiding van Mohr se lewensmaat Ian Ferguson, ’n Meestersgraad in Engels deur Unisa voltooi (cum laude). Sy doseer die eerste aantal jare Engelse letterkunde aan Rhodes. Twee Grahamstadse teaterpersone speel ’n beduidende rol om Reza uit die laai te laat skryf: Francois Swart en Denys Webb. Swart was voorheen kreatiewe hoof van Truk (in samewerking met Manim) en word in die vroeë tagtigs aangestel as professor in drama by Rhodes. Onder sy leiding sien twee Afrikaanse dramaturge se werk die lig: eers Deon Opperman, dan Reza de Wet. Die ATKV loots ’n nasionale kampustoneelkompetisie en Swart voel sterk daaroor dat Rhodes moet deelneem. Webb, wat ook bevriend is met De Wet, is bewus van haar skryfstokperdjie en smeek haar om met iets vorendag te kom vir die die 1985 rondte. Sy lê die eerste weergawe van wat later Diepe Grond sou word aan hom voor. Op daardie stadium is Afrikaansmagtige spelers so dun gesaai in Grahamstad dat De Wet self, en haar buurman Malcolm Hacksley, as akteurs moet inspring. Reza oorreed selfs ’n boesemvriendin se huishulp Jane (Noweni Thys), om die rol van ’n Sotho-karakter te vertolk. Die stuk wen die ATKV-kampustoneelkompetisie en verseker die publikasie daarvan. Manim sien dít en koop die regte. Só word De Wet oombliklik ’n bekroonde en gepubliseerde skrywer wie se drama ’n professionele speelvak geniet. Adrienne Sichel beskryf Diepe Grond in die drama se eerste resensie, as “an instant Afrikaans classic” – dekades later het hierdie mening ’n onteenseglike feit geword. ’n Jaar later verteenwoordig De Wet weereens Rhodes as dramaturg en aktrise met Op Dees Aarde. Ook hierdie drama het ’n professionele nalewe, dié keer deur Truk. Teen haar derde stuk, Nag, Generaal skryf sy nie meer vir studente nie en debuteer dit as die Mark se eerste Afrikaanse drama. HAUM-literêr, die uitgewer betrokke by die keur en publikasie van Diepe Grond, bring De Wet se eerste drie dramas byeen as Vrystaat-trilogie.

Maar voor sy haar reis deur die Afrikaner-psige voortsit, skryf De Wet twee Engelse stukke, In ’n Different Light en A Worm in the Bud. Alhoewel sy haar vestiging in Grahamstad aanvanklik beleef as ’n bevryding uit ’n eng Afrikaner, word sy gou ongemaklik met die wyse waarop sy soms daar as Afrikaner gemerk word. Sy verwys onder andere na ’n resensent wat haar beskryf het as “an angry young Afrikaans playwright”, sy vind dit “neerbuigend” en “koloniaal”. De Wet skryf A Worm in the Bud, ’n sielkundige riller oor ’n (fiktiewe) Britse skoolonderwyseres, Emma Burnett wat haar, kort na die Boere-Oorlog, tydelik vestig op ’n Karoo-plaas om opheffingswerk onder Afrikaners te doen.

Met In ’n Different Light gaan De Wet minder militant en selfbewus met Engels as medium om. In ’n onderhoud met Rolf Solberg spreek sy haar irritasie uit teen die selfkoesterende wyse waarmee die Afrikaanse literêre gemeenskap na haar mening hul taal hanteer, dat wanneer sy in Engels skryf dit beskou word as óf bedreigend óf uitsonderlik, terwyl sy in werklikheid volledig tweetalig grootgeword het, en ewe gemaklik in beide media werk. In a Different Light is ’n delikate drama oor die spanninge tussen twee susters na hul moeder se dood. Sara en haar man Jan voer ’n agorafobiese bestaan in Sara se aftakelende ouerhuis terwyl haar suster Alice met haar man James (Sara se eerste minnaar), as musikoloë deur Noord-Afrika reis. Reardon wat die stuk geregisseer het, beskryf dit as een van De Wet se enigste pogings tot sielkundige realisme, ’n styl waarby hy sterk aanklank vind. De Wet speel ook self daarin, haar laaste optrede as aktrise voor haar swanesang 25 jaar later. In a Different Light word nie goed ontvang nie en word een van haar min stukke wat nooit gepubliseer is nie.

Die dood van ’n moeder as ’n motief in In ’n Different Light reflekteer ’n belangrike verlies in De Wet se lewe en skrywersloopbaan – haar eie moeder sterf aan kanker, net-net te laat vir Tawty om die bekendstelling van Vrystaat-trilogie te beleef. In daardie tyd kom die idee vir ’n tweede Afrikaanse trilogie by De Wet op: Trits: Mis, Mirakel, Drif. Die dood is in elk van hierdie stukke ’n sentrale tema en die besoek van rondreisende populêre vermaakgeselskappe figureer as bevrydende agente in hierdie dramas: ’n troepie akteurs in Mirakel, ’n sirkus in Mis, ’n hipnotis en sy assistente in Drif – alles teatervorms waaraan Tawty Reza as kind bekend gestel het. Aan Patricia Handley verduidelik De Wet dat Trits “made it possible for her to survive ‘devastating’ personal loss” en aan Marijke van Biljon sê sy: “I used it to transform and transcend death”.

In hierdie tyd sterf ook die legendariese Lucille Gillwald, onder wie se kreatiewe leiding Diepe Grond en Nag, Generaal se professionele speelvakke De Wet se reputasie as dramaturg vestig. Deur Trits egter, werk De Wet vir die eerste keer met Marthinus Basson. “ ’n Nuwe betekenis aan my lewe gegee; ’n nuwe verhouding gesien en verstaan op ’n volkome ander manier”. Aan Gordon Dickerson beskryf sy Basson as “the paramount interpreter of my work”. Onder sy regisseurshand behaal haar werk verskeie Vita-toekennings as ook ’n Fleur du Cap. Sy wen ook die Hertzog-prys gesamentlik vir Vrystaat-trilogie en Trits.

In hierdie seisoen van vernuwing en transformasie eksperimenteer De Wet ná Trits vir die eerste keer ook met ander genres. Soos haar hoofkarakters wat op ’n ewige tog na bevryding is, motiveer sy dan ook haar wending na prosa met haar novelle Stil Mathilda, in hierdie terme: “Omdat die beperkings van die teater baie vermoeiend kan wees, soek [ek] bevryding in die vorm van prosawerk al is dit dalk net tydelik”. Al skryf sy in ’n ander genre, duik motiewe en karaktertipes uit haar persoonlike mitologie weereens op – die jong Aspoester-figuurtjie wat ’n onderdrukkende bestaan voer in die huis van haar afstandelike vader, gedissiplineer word deur streng matriarge, gekoester en getroos word deur die Sotho-bediende en geestelike bevryding vind deur kreatiewe en erotiese ontsluiting. De Wet se verlustiging aan die ongebondenheid van die novelle as generiese vorm vind neerslag in die bewussynstroom trant van haar skryfwerk.

Terwyl sy Trits afhandel en aan Mathilda skryf, word De Wet ook deur Gary Gordon betrek om haar skryftalent en ervaring as aktrise op nuwe wyses uit te toets binne die raamwerk van sy teatergeselskap, First Physical Theatre Company. Gordon word hoof van die dramadepartement by Rhodes in 1992 en stig hierdie geselskap met die doel om ’n platform vir sy kollegas te skep waar hulle deur samewerking, met projekte met kreatiewe uitsette vorendag kan kom. De Wet skryf ’n gedig dialogue wat First Physical se eerste produksie inspireer en dien as ’n tekstuele agterdoek met musiek en fisieke teater op die voorgrond. In die daaropvolgende produksie word haar bydrae meer intensief. Gordon konseptualiseer The Unspeakable Story, ’n meditasie op die impak wat die dood van die Belgiese kunstenaar René Magritte se moeder op sy werk uitgeoefen het. De Wet word by die navorsing hiervan betrek, skryf die teks, meestal vanuit die dooie moeder se perspektief, vertolk van die dialoog self op band, en verskyn selfs op die verhoog as ’n lyk. Soos haar eksperimente in prosakuns, vind sy ook hierdie vorm van dramaturgie en teaterproduksie verfrissend, stimulerend en weereens bevrydend. dialogue en The Unspeakable Story loots die begin van ’n produktiewe verhouding tussen De Wet en Gordon: sy skryf hiernaas tekste vir Bessie’s Head, oor die skrywer Bessie Head, Death: A Short History of One Called Ivan Ivanovich, ’n besinning oor die dood, en Lilith oor die Joodse legende van Adam se eerste vrou.

Na ’n vier jaar lange onderbreking van konvensionele dramaturgie, spits De Wet haar weereens toe op ’n trilogie – hierdie keer met stukke wat afspeel teen die agtergrond van ’n vroeg twintigste-eeuse Rusland en met die karakters van haar groot held, Anton Tsjechof. Die sneller vir hierdie idee is getrek deur Basson, wanneer hy haar in die vroeë ’90s nader om ’n Afrikaanse drama vir Kruik (die Kaapse Raad van Uitvoerende Kunste) te skryf, is sy entoesiasties maar sonder idees. Hy “trek” (in sy eie woorde) “’n haas uit die hoed” en sê dat hy nog altyd gewonder het wat van Tsjechof se drie susters sou geword het tydens die Russiese rewolusie. Dit aktiveer een van haar vroegste teaterpassies en sy begin naarstigtelik sy stukke asook sy kortverhale, herbesoek. Die gevolg is A Russian Trilogy bestaande uit drie antwoorde op drie Tsjechof dramas: Drie Susters Twee of Drie Susters, Yelena op Oom Wanja en On the Lake, op Die Seemeeu. In elk van hierdie dramas keer ’n dissidente protagonis uit die bronteks terug na ’n huishouding waar sy seergekry en seergemaak het. Een-een word sy deur haar medekarakters gekonfronteer oor haar selfsug en roekeloosheid en ondergaan ’n akute geestelike metamorfose.

De Wet ontvang haar tweede Hertzog-prys vir Drie Susters Twee. Ten spyte hiervan, word die drama relatief swak ondersteun deur Afrikaanse gehore. De Wet skryf dus Yelena en On the Lake skroomloos in Engels en verbreed sodoende ook die stukke se opvoermoontlikhede. Vir die skudblad van Drie Susters Twee (wat eers selfstandig in Afrikaans gepubliseer word) skryf Tim Huisamen dat, sou hierdie drama vertaal word, dit die internasionale erkenning sal verseker wat De Wet toekom. Sy voorspelling is akkuraat. ’n Britse literêre agent word deur ’n Suid-Afrikaanse regisseur en akteur, Steven Stead, aan De Wet se werk bekend gestel. Haar eie vertaling van Drie Susters Twee word in Londen deur die Orange Tree Theatre Company opgevoer met regie deur Oriel Smith. Terselfdertyd vertaal sy en Steven Stead saam Trits en word dit in Brittanje deur Oberon gepubliseer as Plays One: Missing, Crossing, Miracle; daarna ook ’n vertaalde en verwerkte weergawe van Vrystaat-trilogie as Plays Two: African Gothic, Good Heavens, Breathing In. Oberon word ook die trotse publiseerders van werke wat De Wet oorspronklik in Engels skryf: A Russian Trilogy, Two Plays en The Brothers.

De Wet se proses van vertaling lei ’n fase van hersiening en selfrefleksie in haar skrywersloopbaan in. In plaas van vertaal, herskryf sy Vrystaat-trilogie volledig – soveel so, dat dit problematies raak om Plays Two as ’n vertaling te beskou. So, byvoorbeeld, smelt Nag, Generaal se protagonis, Martha, die generaal se vrou, en die enigmatiese kruiedokter Naas, saam as een karakter in Breathing In. Anna, die vreesaanjaende towenares wat haar dogter soos prooi aanwend in ’n bitter stryd om oorlewing in ’n wêreld waar chauvinisme bo-toon voer. De Wet besluit ook om A Worm in the Bud, haar ander fin de siècle periode-stuk, te herskryf as Fever. In hierdie hersiening word Emma Burnett meer simpatiek omlyn deur haar suster Katy se storie uit te bou en sodoende die verstikkende Victoriaanse opbrengs te belig wat aanleiding gee tot die neurose wat Emma uiteindelik vernietig. De Wet skryf ook ’n nuwe drama Concealment, om met Fever gepubliseer te word as Two Plays. Ook hierdie drama wentel om die konflik tussen twee susters waarvan een, tydens die vroeg-1900s haar gaan vestig in ’n ongenoemde Afrika-land. Die protagonis May, vind haar lewe hier bevrydend en só skep De Wet ewewig aan die tematiese toon van A Worm in the Bud en Fever.

De Wet se uittrede uit die akademie in 2007 stem ’n toon van afhandeling vir die finale fase van haar teateroeuvre. Vir haar laaste werk met studente regisseer sy Heathcliff Goes Home, ’n hersiening van die eerste stuk wat sy ooit geskryf het, maar wat nooit professioneel opgevoer is nie – Heathcliff and the Dancing Bear. In hierdie fassinerende drama beeld De Wet die romansier en digter Emily Brontë uit waar sy wroeg met die afhandeling van haar enigste roman, Wuthering Heights. In die proses word Brontë se manlike alter-ego Heathcliff, se lewe, voor hy by die Heights ingeneem is, ook vertolk. Emily en Heathcliff voer deur bemiddelde retrospeksie ’n dialoog oor die verhouding tussen die dood en kunstenaarskap. Sy wei ook twee ander dramas toe as huldeblyke haar literêre helde: The Brothers (later vertaal as Broers) oor Tsjechof, en Verleiding oor Eugéne Marais. Op ’n ligter noot ontwikkel De Wet ’n jaar later hierdie tema van ’n bejaarde se onderhandeling met die dooies en met het haar eie passies, met haar komedie, Blou Uur . Aan Kobus Burger voer sy aan: “Ek het regtig begin terugverlang na my kinderdae. Ek moes my ouma se huis op die platteland verkoop. Dit was vir my soos die dood. Dit was verskriklik. En daar ontstaan die idee toe om ’n toneelstuk daaroor te skryf.” (Burger “Geraamtes” 18). In Blou Uur besin ’n ouer vrou oor die waarde van ’n romantiese proposisie en roep herinneringe aan haar moeder, ouma en tante se liefdesintriges op.

In 2010 kondig De Wet aan haar naastes en almal wat betrokke is by haar werk, dat sy besig is met haar laaste drama, Die See. Min glo haar, maar sy hou by haar stelling met ’n vreemde sekerheid. Na maande se oorweging besluit sy ook om vir die eerste keer in 25 jaar weer self die professionele verhoog te betree en in haar eie stuk te speel. Sy dring ook daarop aan dat Reardon, wat haar reis as teatermaker met haar afgeskop het in haar vroeë twintigs, die regie behartig. Die See dramatiseer die onderhandelinge tussen drie slavinne in die Kaap de Goede Hoop, op die vooraand van die Britse Inval. Die drie karakters verteenwoordig drie stadia in ’n vrou se lewe: Meisie, Vrou en Ou Vrou.  In hierdie tragiese drama leer die slavinne om hul onderskeie lotsbestemmings te aanvaar: die Meisie bestyg haar amp as die Meester se nuwe courtesan, die Vrou moet haar aftrede daarvan verwerk, en die Ou Vrou maak reg vir die dood. Die See debuteer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in April 2011. Ses maande later word De Wet gediagnoseer met leukemia. Sy besluit om nie behandel te word nie en handel die laaste drie maande in afsondering in haar huis af, onder die sorg van familie en geliefdes. Reza de Wet sterf op 27 Januarie 2012.

Reza de Wet se Breathing In is deur Marthinus Basson vertaal as Asem en debuteer by die KKNK in 2017.

Danie Stander is ’n student en tutor by Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch. Hy besig hom tans met ’n doktersgraad in Life Writing waarin hy hom toespits op die lewe en werke van Reza de Wet.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?