Pieter Koen onthou eerste KKNK

pieter

Maryke Roberts

Pieter Koen is een van daardie sangers wat eintlik geen bekendstelling nodig het nie, maar net vir dié wat hom nie ken nie: hy is die voormalige Radio Rippel-omroeper en aanbieder van kyk­NET se gewilde musiekprogram op Saterdagaande, Jukebox. Van sy treffers sluit in “Skud jou biscuit”, “3 susters van Drie Susters” en “Tattoo”.

Krit het met hom gesels oor sy optrede Vrydagaand by die Huisgenoot-verhoog om 18:00. Hoop ons sien jou daar.

Wat is spesiaal aan die vertoning?

Wat die vertoning spesiaal maak, is die feit dat Jukebox in sy tiende seisoen is. Uiteraard is dit ’n besonderse mylpaal en deur die jare is daar ook deurgaans gepoog om so gereeld as moontlik Jukebox in ’n meer

fisieke formaat aan die publiek te bring, eerder as net die belewenis week ná week op die spreekwoordelike kassie. Ons het al verskeie “Jukebox Road­show”-vertonings suksesvol aangebied en dit goed gedink om hierdie jaar ’n soortgelyke vertoning by sekerlik een van die bekendste kunstefeeste in die land aan te bied. Wat dan hierdie rondte ekstra spesiaal maak, is dat ons dit saam met ’n orkes gaan aanbied, en van die land se mees geliefde kunstenaars gaan insluit.

Vanjaar is dus vir jou ’n groot jaar. Wat is vir die lekkerste van die show?

Sjoe, die gesegde is nie verniet “tyd vlieg as ’n mens iets geniet” nie. Ek kan jou weliswaar nie glo ons is al so lank aan die gang nie, maar is tog ook besonders bevoorreg en baie geëerd om wel in hierdie posisie te kan wees. Die sukses van die program lê myns insiens in die samewerking van die totale span wat verantwoordelik is vir Jukebox, en ’n mens kan ook nie die musiek waarom die program draai, vergeet nie. Jukebox se aanslag is lekker en gemaklik en ek is oortuig daarvan dat ons deel van die kultuur oor die jare geword het. Ek dink menige huishouding maak deesdae seker dat die vure reeds hoog brand voordatJukebox op ’n Saterdagaand begin sodat ons juis ’n lekker geselligheid of kuier met die musiek en geselsie wat ons bied, kan komplementeer.

Wat vier jy nog vanjaar?

Ek is baie opgewonde oor wat voorlê in 2017. My nuwe album is skaars vier of wat maande oud en dit beteken dat daar nog baie werk en heelwat kuiers by dorpe en geleenthede in ons land gaan wees. Ek wil soos met al my vorige albums seker maak almal kry hom te hore en maak hom ook deel van hul versameling. Ek sien ook vreeslik uit na so ’n paar indrukwekkende byvoegings wat ons totJukebox gaan maak in die nabye toekoms, en weet sommer dat die volgende dekade nie net by ons as program nie, maar ook by kykNET as kanaal van die beste nog gaan wees.

Hoekom geniet jy die KKNK so baie en wat is vir jou uniek daaraan?

Volgens my is die KKNK die “patriarg” van feeste in ons land. Wat my bie­tjie kennis rondom die geskiedenis van die fees betref, is ek van mening dat die KKNK die eerste van sy soort was en is. In die tyd sedert die eerste KKNK het daar al heelwat soortgelyke feeste die lig gesien – ook met baie sukses natuurlik, maar wat die KKNK betref, is dit die oudste van al die “kinders”. Ek kan ook baie goed my eerste optredes as jong kunstenaar by die fees onthou, die rondhardloop van die een na die ander verhoog, bietjie asem skep en weer gaan, en natuurlik sal ek nooit vergeet hoe ek in ’n tentjie in iemand se erf gekamp het daardie eerste jaar van die fees nie. Uitmuntende tye wat my altyd nederig sal hou. Die fees het vir my ’n onbeskryflike uniekheid – seker vanweë die feit dat ek dit as ’n “senior” fees sien en beskou.

Wat is die een ding wat jy nie kan misloop by die KKNK nie – enige rituele soos roosterkoek gaan eet, of koffie op die Queen’s Hotel se stoep?

Die stof . . . vuil voete . . . moeë bene ná ’n dag by die fees en ’n draai by al die stalletjies, en ’n lekker braai saam met vriende en/of kollegas ná ’n goeie vertoning.

Wat hou die res van die jaar vir jou in?

Daar is natuurlik die Pieter Koen-familiepiekniek op 30 Julie in Pretoria en altyd ’n aangename surprise of drie . . . Hou hierdie spasie dop.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?