Oudtshoorn matrikulant se kunstalent by KKNK ontdek

pr

Absa help om loopbaan te bevorder

Lonel Fivaz (17), ’n matrikulant van Hoërskool Oudtshoorn, se kunstalent is tydens die KKNK op Oudtshoorn ontdek. Fivaz was een van die promotors wat by Absa se Klip-aktivering gewerk het.

“Absa is baie opgewonde om jong plaaslike kunstalent te ontdek en sien daarna uit om Fivaz se talent te ontwikkel en hopelik haar loopbaan in die kunste te sien floreer,” sê Adam Brooke, Absa se borgskapbestuurder.

Volgens Brooke, was Absa op soek na klippe wat kreatief geverf is om aan Colan Sylvester (burgemeester van Oudtshoorn), Rhodé Snyman (uitvoerende hoof van die KKNK) en Gerrie Ferreira (eienaar van die grond waar die Absa Klipprojek gebaseer is) te oorhandig. Hy het twee klippe opgemerk wat Fivas geverf het.

“Ek het haar gevra om ’n derde klip te verf, wat deel van die oorhandiging kon wees en haar vernuf het my verbaas,” sê Brooke. Hy het besluit om haar by die fees aan die KKNK se visuele kunskurator, dr. Paul Bayliss voor te stel. Dr. Bayliss het gehou van haar werk en aangebied om haar met haar loopbaan by te staan. Hy is tans besig om reëlings met ’n Oudtshoorn-kunstenaar te tref om as haar mentor op te tree, terwyl sy haar skoolloopbaan voltooi.

As deel van hierdie geleentheid, nooi Absa haar as ’n gas na die Absa L’Atelier-kompetisie in Johannesburg, waar sy die Absa-galery gaan besoek en tyd met die 2014 L’Atelier-wenner en kurator van The Confessional (’n kunsuitstalling by die KKNK in 2017), Liberty Battson, gaan spandeer.

Fivaz sê sy is baie opgewonde oor die geleentheid, aangesien sy nog nooit in Johannesburg, of op ’n vliegtuig, was nie. “Alles het so vinnig gebeur en dit is beslis iets wat ek nooit gedink het met my sal gebeur nie. Ek sien daarna uit om al die talentvolle kunstenaars te ontmoet en hoop dat hierdie geleentheid my kunsloopbaan sal vorm,” sê sy.

Dr. Bayliss ondersoek ook die moontlikheid om haar as kurator van ’n uitstalling deur jong kunstenaars in 2018 by die KKNK in te span.

Fivaz wil na skool onderwys, met ’n spesiale fokus op kuns, studeer aangesien sy graag met kinders wil werk.

 

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?