Oudtshoorn, jou bliksem (alweer)

KKNK-2017-web-images-1000x500-Willem Mulder

Herman Lategan

As jy nie vir Oudtshoorn ken nie, dan kan die wêreld nogal vir jou warm raak. Laasjaar was my eerste besoek ooit aan dié dorp.

Ek is gewoond aan die koel seebriesie van Seepunt, waar dit bittermin meer as 30 °C word. Verder, as dit wel reën, is dit maar ’n motreëntjie.

So kom ek toe hier aan en binne die eerste dag is dit 35 °C. Die aarde tril soos die fata morganas en lugspieëlings uit die paaie uit opslaan.

Ek is saam met ’n vriend Angelo Mockie wat vir Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (Nati) iewers moet gaan optel. Ons is op pad teater toe en is amper laat.

Ek het haar in daardie stadium nog nooit ontmoet nie. Al wat ek weet, is die vrou klink erg grênd met so ’n titel.

Dit het gevoel asof die ‘glas’ in die tussentyd tot oor die 40 °C gestyg het. Die lugverkoeling het ook nie gewerk nie.

Woorde soos kookpunt, smeltpunt en songloed het na my toe gesweef. Ek is in ’n beswyming. Net toe ons ry, is daar ’n slag. Die motor skud. Kwit, het ons oor iemand gery?

Nee, donderweer. Ons kyk verstom op. Boontoe. Binne minute raak dit donker. Die lug is opeens vol wolke wat lyk soos dik stukke watte wat in swart ink gedoop is. Daar is blitse en bliksemstrale. Die hemelruim is ’n disko-bal.

Ek onthou verkoolde koeie wat ek eenkeer op die vlaktes van die Vrystaat gesien het. Die reuk van daardie smeulende karkasse verlaat jou nooit nie.

Ons ken albei nie die dorp nie, so ons gebruik Google Maps. Die vrou se stem vertel ons hoe ver vorentoe en waarheen. Sy gee die verkeerde inligting; ons beland op agterpaaie. Grondpaaie.

Ons volg maar haar aanwysings, maar haar stem is skaars hoorbaar, so dreun die lug. Bome wieg en lyk asof hulle gaan omwaai. Net toe ons deur nog ’n duik in die pad ry, slaan die water neer.

Hard soos vuiste wat teen die kar klap, asof iemand vir wie ons gestamp het op die dak beland het en vir hulp skree. Angelo skakel die ligte aan, want dis middag maar die son is weg.

Die ruitveërs kan skaars byhou. Die sig raak nog swakker. Ons is figurante in The Rocky Horror Picture Show. Die woorde “There’s a light over at the Frankenstein Place / there’s a light burning in the fireplace” kom by my op.

Ek hou die selfoontjie teen my goeie oor, want ons moet by Cornelia uitkom, come hell or high water. Ek kan nie hoor of die vrou op die affêre Japannees of Amerikaans praat nie. Toe ons weer sien, kom vloedwater soos ’n rivier na ons aangerol.

“Trap daai ding daaronder,” skree ek. “Vandag verdrink ons nog!” Ons ry deur rooibruin golwende water en dit voel asof ’n vlak rivier ons omring.

In die verte sien ons die buitelyn van ’n vrou wat waai. Dis Cornelia. Sy lyk soos een wat van die land af wuif na ’n skip wat op die ruwe waters van die see sink.

Soos ’n Voortrekker van ouds laat sit sy haar nie af deur die reënwater nie. Dis reeds kniediep, en sy kom aangeloop, maar soos een wat half swem. Sy druk teen ’n sterk wind.

Maar kom, kom sy. Sy gáán in daai ‘mouter’ klim, want teater toe gaan ons, and the show must go on. Papnat klim sy in; ons bibber. Tande klap. Sy sê: “Ry, Angelo, ry, ons is laat!”

Hy laat waai, die water hou die kar ietwat terug, maar ons beweeg. En toe stop die reën, die wolke verdamp, en teen die tyd wat ons inloop by die toneelstuk, toe tap die sweet ons weer af.

“Dit het glo nog nooit voorheen gebeur nie. Indien wel, baie lank terug,” vertel ’n vreemde man my toe, wie se gesig ek kon sien deur die jare deur die son vodde verbrand is. Geplooi soos daai honde met verrimpelde gesigte, ’n Shar Pei. Sy tande geel van die brakwater.

Groot was my verstomming toe ek nou weer in Angelo by die hotel vasloop en hy my ’n geleentheid aanbied na die Gimsaal, hoeka daar naby waar ons laas was.

Angelo se woorde was skaars gevorm, toe hoor ek die donderweer. Ek sien die blits. Ek voel die hitte. Die man met die kreukelgesig se liegwoorde kom na my toe terug soos ’n skim. Dit gebeur kammalielies nooit nie.

En ek dink, Oudtshoorn jou bliksem, hierdie keer vang jy my nie weer nie. Ek loop liewer.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?