Ou TV-treffer kort hart

margit

Komedie: Koöperasiestories

Marina Griebenow

Dis tog sekerlik nie oordrywing om te sê dat PG du Plessis, skepper van onder meer die geliefde karakters van die televisiereeks Koöperasiestories, die raakste beskrywer van die kondisie van die kleine man (en vrou) onder die Afrikaners van so ’n geslag of twee gelede is nie. Met ’n behendige oog en oor vang hy hul versugtinge, swakhede en eienaardighede noukeurig vas en bied dit dan in verteerbare formaat en as vermaak aan sy lesers, kykers en gehore.

Dit is dus amper te goed om waar te wees as die geleentheid hom voordoen om Genis, Veldsman en Mietie weer op die koöperasie se stoep te beleef, en dít boonop op ’n verhoog. Ons is tog immers almal so dan en wan nostalgies vir tye toe die pas van die lewe stadiger was en die interaksie tussen mense meer reguit en haas eerliker. Die Afrikaanse kunstefeeste is dan ook die ideale platform vir ’n produksie gegrond op dié ongekunstelde en humoristiese volkskuns.

Helaas is dit te laat om ooit weer vir Jacques Loots, Emgee Pretorius en Marie Pentz in dié rolle te sien wat hulle volksbesit gemaak het, maar hul skoene word desondanks ander dinge wat haper puik volgestaan deur Carel Nel, Chris van Niekerk en Marion Holm. Margit Meyer-Rödenbeck en De Klerk Oelofse vertolk tussen hulle ’n magdom rolle, onder wie die Pieterse-kindertjies wat so oopbek op die dorp rondloop, Johanna wat ’n oog op Genis het, die polities ambisieuse skoolhoof Van Staden en Vissertjie, die stadsklerk wat slimmer is as wat hy lyk.

Alexa Strachan, jare lange medewerker van Du Plessis, gebruik sy verhale as bron vir die teks van Koöperasiestories. Sy slaag egter nie daarin om volronde karakters op die verhoog te plaas nie omdat sy staatmaak op nostalgie en skramse verwysings om die toneelstuk te dra. Om dieselfde rede word daar periodiek op klugtige elemente teruggeval vir effek eerder as intensie.

Ook Sandra Prinsloo se regie skiet tekort. Du Plessis het komedie geskryf met diepgang. Hy gaan tydsaam om met sy karakters. Die pas van Koöperasiestories is só vinnig dat die akteurs min kans kry om hul karakters ín die dialoog te laat gaan sit. Holm en Van Niekerk se ervaring red hulle, maar die jonger Nel – met die moeilikste taak van die drie – word oënskynlik aan sy eie genade oorgelaat.

Meyer-Rödenbeck en Oelofse is wonderlike komedie-pasmaats en het die gehoor behoorlik laat skater. ’n Mens wil hulle inpak en huis toe neem. Holm is al jare lank ’n persoonlike gunsteling en haar Mietie is ondanks die teks- en regieprobleme ’n diep menslike karakter by wie die gehoor groot aanklank vind. Van Niekerk het een van die mooiste stemme in die bedryf en het natuurlik die nodige gravitas om Veldsman geloofwaardig en eg te laat oorkom.

Dit was ’n waagstuk om Nel te kies as die beswaarde Genis. Hy is baie jonk om in so ’n ikoniese rol geplaas te word, maar hy het ongetwyfeld die nodige talent en vaardigheid, asook die ideale fisieke voorkoms, om daaraan reg te laat geskied. As iemand net nie só met ’n sweep agter hom gestaan het nie!

Koöperasiestories is potensieel ’n lokettreffer. Die rolverdeling bestaan uit van ons beste spelers, Juanita Ferreira het gesorg vir ’n doelmatige en treffende stel (kompleet met die Five Roses Tea-advertensiebord) en Anel du Toit se kostuums herinner goed aan die era. Daar moet egter harder gesoek word na die outentieke elemente en empatiese gees van PG du Plessis se karakters en die hart van sy verhale.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?