‘Ons is nié tweede Zimbabwe’- Aan tafel met Christo Wiese

wiese

Anet Pienaar-Vosloo

Christo Wiese kom elke jaar amper as ’n pelgrimstog Oudtshoorn toe om te kom kuier op die Queen’s Hotel se stoep. Vir hom is niks lekkerder as om sy plek in te neem en met ou vriende te gesels, te kuier en dan sy ruim porsie afval te geniet nie.

“Dis vir my ’n geweldige groot eer om ’n beskermheer van die KKNK te wees. Ek is baie gevlei dat hulle my ’n paar jaar gelede al gevra het om deel te wees. Ek wil hê dat die direksie moet weet dat ek altyd daar is as hulle hulp of raad nodig het.

“Hoe voel ek oor Afrikaans? Ek was nog nooit bekommerd oor die voortbestaan van Afrikaans nie. Solank daar mense is wat lief is vir die taal sal die taal gedy. Ek is trots op die KKNK en dit maak mense trots op hul eie identiteit en taal. Dis ’n plek waar hulle ongebonde tuis voel.

“Hulle weet hulle het ’n plek, maar as ons na die land se kleursamestelling kyk – 8% van alle Suid-Afrikaners is wit en binne 25 jaar gaan dit daal na onder 4%. Ons is ’n klein minderheid. Afrikaans het ’n klein maar belangrike plek in die samelewing en daar is geen rede hoekom ons bedreig moet voel nie solank ons ons status as minderheidsgroep, en nie dikbek nie, aanvaar.

“Met die huidige skommelinge in Suid-Afrika het almal ’n knee jerk-reaksie – ons dink ons gaan ’n tweede Zimbabwe word, maar daar is geen manier hoe ons die twee lande kan vergelyk nie.

“As ’n minderheid is die huidige probleem essensieel binne die ANC. Maar ons moet nooit uit die oog verloor, soos met alle groeperings, dat die ANC bestaan uit ’n verskeidenheid mense – baie slegte mense, maar ook tienduisende goeie mense. Die laaste paar weke het bewys hoeveel goeie ANC-mense daar is, en hulle is nie ons vyand nie.

“Ons gaan deurdring deur hierdie krisis soos vorige krisisse die afgelope 60 jaar deur kop te hou, moed te hou en aan te hou.

“Ons moet ons altyd daaraan herinner dat ons as mense van Suid-Afrika in die paradys woon.

“My kunssmaak? Ek geniet alles, maar is nie ’n kundige op enige gebied nie. Wens ek kan skilderkuns mooi verstaan, en ander genres. Ek en Caro is ook baie lief vir klassieke musiek en opera. As ek na ’n skildery kyk, moet dit net vir my mooi wees.

“Net soos my geliefde land, Suid-Afrika.”

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?