Net ’n leegheid ná ‘Die vrou uit die see’

neels

Marina Griebenow

Henry Mylne, uitvoerende regisseur van die sepie 7de Laan, benut graag die Afrikaanse kuns­tefeeste om uiting te gee aan sy liefde vir ensemble-dramas.

So doen hy in 2013 The Homecoming van Harold Pinter as Huis toe en in 2014 The Beauty Queen of Leenane van die Ierse dramaturg Martin McDonagh as Beauty Queen met wyle Marga van Rooy wat gereeld ’n meesterklas in komiese tydsberekening gegee het.

Die strawwe skietskedule van ’n sepie laat hom nie tyd om wyd akteurs te gaan soek vir sy projekte nie. En waarom dan soek as daar reeds ’n hele koterie spelers in jou agterplaas is? Die televisieakteurs kry ook sodoende die geleentheid om hul verhoogvaardighede te slyp.

Boonop bied dit ’n gulde geleentheid aan sepie-aanhangers om hul gunsteling-televisiepersoonlikhede in lewende lywe te sien, al is dit in ’n ander gedaante as waaraan hulle gewoond is. In die algemeen dus ’n wen-wen situasie.

Vir die KKNK 2017 pak Mylne Die vrou uit die see van die Noorse dramaturg Henrik Ibsen, algemeen bekend as die vader van die realisme en modernisme in teater. Ibsen was glo die eers­te om die mites van die middelklas te verwoes en hul werklike probleme op die verhoog te plaas. In sy dramas was daar nie helde of booswigte nie, net gewone middelklasmense en hul probleme.

Groot lewensvrae is tog gevra, en met die kwessies wat hy vooropstel, is hy eintlik sy tyd ver vooruit. Dis ook die geval

in Die vrou uit die see, waarin Ibsen onder meer die aard van die huwelik beskou, asook die manier waarop mense hulself in verhoudings handhaaf en hul huweliksmaats die ruimte laat om hul eie geluk na te jaag.

Dr. Wangel (Neels van Jaarsveld), Ellida, sy tweede vrou (Jana Strydom), en sy twee dogters, Bolette (Amalia Uys) en Hilde (Natasha Dryden), verwag ’n besoek van Bolette se oudonderwyser, Arnholm (Erik Holm). Intussen kuier die skilder Ballested (Gavin van den Berg) en ’n bedorwe en mankoliekige beeldhouer Lyngstrand (Kaz McFadden) ook by die Wangels.

Ellida is verknog aan die see, eintlik obsessief daaroor. Dit blyk later sy glo sy is eintlik met ’n Finse matroos (Theodore Jantjies) getroud wat moes vlug nadat hy sy skeepskaptein vermoor het. Hy het egter belowe hy sou haar kom haal en, as die seël op hul liefde, hul ringe in die diepsee gegooi. Vandaar Ellida se fassinasie met die oseaan. Die vreemdeling keer inderdaad terug en die vraag is dan of sy aan die lokstem van die see gaan toegee en saam met hom gaan, en of sy by haar man en sy kinders gaan bly.

Vir sy stelinkleding maak Mylne gebruik van videobeelde wat agter teen groot grys skerms vertoon word om die verskillende tonele te plaas. Dit is groot en indrukwekkend, veral met die seetonele. ’n Mens vermoed egter dat Mylne hom nie tot ’n spesifieke tydperk wil verbind nie. Dit is ook die geval met die kostuums. Maar dit veroorsaak probleme. Ellida loop rond met ’n rok in skakerings van seegroen. Die rok het egter skaars moue. Terselfdertyd is dr. Wangel van kop tot tone geklee in ’n swaar leerbaadjie en ’n langbroek van swaar, donker materiaal – so ook Arnholm. Die jongste dogter, Hilde, is geklee soos ’n goth, maar die skepe wat op die skerm vertoon word, is seilskepe. ’n Mens kan kies om dié teenstrydighede te ignoreer, maar waarom dan enigsins moeite doen daarmee?

By die KKNK vind Die vrou uit die see plaas in die Johnny Bischoff-saal, ’n groot venue met swak akoestiek. Alles eggo en weergalm. Die akteurs gebruik dus mikrofone vir hoorbaarheid, maar dit doen terselfdertyd afbreuk aan die intimiteit van die drama. Die dialoog word berekend en met inagneming van die mikrofone. Dít is moontlik ’n bydraende faktor tot die oorwegende gevoel van leegheid wat ’n mens ná afloop van die stuk ervaar.

Op enkele uitsonderings na het ’n mens die spel ook oorwegend as tegnies ervaar en is jy nie werklik geraak nie. Spelers wat in hierdie verband uitgesonder moet word, is Strydom, Holm, Jantjies en McFadden.

Die vrou uit die see sit volgepak met feesgangers; ’n captive audience. Dis jammer die geleentheid om Ibsen se insigte op ’n meer betekenisvolle wyse oor te dra, is grootliks verspeel.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico

Log in with your credentials

Forgot your details?