‘Miss Daisy’ se wiele draai maar swaar

John Kani en Sandra Prinsloo Foto Natalie Gabriels

Drama: John Kani en Sandra Prinsloo weer saam

Willem Bester

As daar een Amerikaanse toneelstuk is wat, met eerste oogopslag, goed in ’n Suid-Afrikaanse gedaante behoort te werk, is dit Alfred Uhry se Driving Miss Daisy. Die verhaal van Miss Daisy se kwarteeu-lange vriendskap met haar swart chauffeur Hoke is die soort storie wat ’n mens, juis in troebel tye as toonbeeld van medemenslikheid en versoening aan die groot klok wil hang.

In So ry Miss Daisy, vertaal deur Saartjie Botha en met regie deur Christiaan Olwagen, word die Joodse Daisy ’n Afrikaanse weduwee en Hoke ’n swart man met ’n van wat nie maklik oor Afrikaanse lippe vloei nie. Ná ’n ongeluk in haar oprit durf die bejaarde Daisy (Sandra Prinsloo) nie langer bestuur nie, en haar seun (Jacques Bessenger) neem Hoke (John Kani) in diens as Daisy se chauffeur. Aanvanklik is sy ’n onwillige en beterweterige passasier, maar met die verloop van tyd word Hoke haar getroue vriend en steunpilaar in ’n veranderende wêreld.

Uhry se oorspronklike teks ondersoek nie net ras nie, maar ook manifestasies van klas, bevoorregting en integrasie. As Jood in die Suidelike deelstaat van Georgia is Daisy die toonbeeld van iemand uit ’n minderheidsgroep wat nietemin as gevolg van haar geld, aksent en, bowenal, haar wit vel aan die kruin van die maatskaplike leer staan. In haar milieu is dit aanvaarbaar om ’n dinee ten bate van Martin Luther King Jr. by te woon, al stem haar seun vanuit besigheidsoorweginge nie saam nie. Sy is diep geskok en verbaas wanneer haar sinagoge die teiken van ’n haataanval is.

Dié aspekte oorleef die Suid-Afrikaanse verplasing nie in een stuk nie. Hiér onderrig Hoke Daisy steeds in die vernedering van “Slegs Blankes”-badkamers, maar hy vind geen aanknopingspunt om die aanval op haar kerk in die konteks van rassegeweld te vertolk nie. Daarvoor sit die plaaslike Daisy té Christelik Nasionaal in haar vel, want haar stand is bloot sinoniem met haar kleur, sonder die konflik van ’n minderheid wat voordeel trek as deelversameling van ’n meerderheidsgroep. Met die Rivonia-verhoor en die vrylating van Nelson Mandela as twee ankerpunte maak die chronologie ook nie sin nie – nie met die datums wat vir Daisy aangebied word nie.

Die eenvoudige stel sou goed werk, was dit nie vir die stuurwielgebare en die gebruik van sitkamerstoele om Daisy en Hoke se ritte voor te stel nie. Die projeksies – sommige van straattonele met moderne motors, terwyl die stuk iewers in die 1960’s tot 1990’s afspeel – het nie orals gehelp nie. In plaas van innoverende gebruik van beperkte inkleding en beligting, het dit eerder soos ’n skoolproduksie voorgekom.

Wat oorbly, is sterk spel van die twee veteraanakteurs Kani en Prinsloo. Maar met die snitte aan die teks en ’n verplaasde milieu wat effens dwars sit met die verhaal, was daar bloot nie genoeg vir hulle om te doen nie. Dit het ’n relatief snelle pas, sonder tyd vir oordenking, wat die karakterontwikkeling laat skade ly het.

So ry Miss Daisy is uiteindelik ’n gebrekkige poging om ’n geliefde en bekroonde produksie ’n plaaslike baadjie aan te trek. Ten beste lyk dit soos agterlosige regie en teksverwerking. Ten slegste is dit opportunisties, die idee van ware vriendskap wat alles oorkom ten spyt.

Vandag om 15:00 en môre om 19:30.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?