Meeste Fiësta-benoemings vir KKNK-debute

Liewer Fiestas

Anna-Mart van der Merwe en Brendon Daniels in Liewer by die KKNK in 2017. Liewer het die meeste Fiësta-benoemings (agt) ontvang. FOTO: Hans van der Veen

Debuutproduksies by vanjaar se KKNK is gesamentlik vir die meeste Fiësta-pryse benoem. Dié lys van benoemings is Sondag, 3 Desember deur kykNET bekendgemaak. Die Fiëstas beloon sedert 2011 rolspelers vir uitsonderlike bydrae by Suid-Afrika se groot kunstefeeste.

“Baie geluk aan al die kunstenaars, regisseurs en vervaardigers wat vir hulle kreatiewe werk met ’n Fiësta-benoeming beloon is. Dit is elke jaar vir ons ’n voorreg om talle debuutwerke op Oudtshoorn aan te bied en ons is trots daarop om benoemings in 14 van die 17 kategorieë te ontvang,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied. Volgens Snyman, het KKNK-debuutwerke bykans 50% van dié benoemings ontvang.

Produksies wat in 2017 deur Kunste Onbeperk vervaardig is, is gesamentlik vir 20 Fiëstas benoem. Hieronder tel Liewer, ’n ko-produksie met die US Woordfees en ondersteun deur die LW Hiemstra Trust en Sinotec, wat met agt die meeste benoemings ontvang het. Buite Land, moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Feesteforum, het met ses benoemings gesamentlik die tweede meeste ontvang. Asem (ook moontlik gemaak deur NATi en die Feesteforum) en Die koninkryk van die diere het elk twee benoemings ontvang, terwyl Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, ’n ko-produksie met die Suidoosterfees en ondersteun deur NATi en Institute Français Afrique de Sud (IFAS), en Rymklets van Oos tot Wes elk een benoeming ontvang het.

Melk & Vleis, wat verlede jaar tydens die eerste Kunste Onbeperk Teksmark voorgelê is, het ook ses benoemings ontvang. Dit is as ’n ko-produksie tussen Aardklop, Kunste Onbeperk, die US Woordfees en KunStig vervaardig en het vanjaar by Aardklop geopen.

“Dit is ook vir ons opwindend om verskeie benoemdes volgende jaar by die KKNK te verwelkom. Feesgangers kan nou reeds uitsien na Melk & Vleis, Nêrens, Noord-Kaap, Weerkaats, Mike & Mavis en RSG Dis Opera wat van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April 2018 op Oudtshoorn te sien is,” vertel Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk. Die program vir die 24ste KKNK word op Maandag, 22 Januarie bekendgestel en kaartjieverkope open op Dinsdag, 23 Januarie by Computicket.

Gehore het ’n laaste geleentheid om die genomineerde Kunste Onbeperk-produksies te sien. Asem, Buite Land, Liewer en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran is by die US Woordfees in 2018 te sien.

’n Onafhanklike paneel was teenwoordig by KKNK, Aardklop, Innibos, Suidoosterfees, US Woordfees en Vrystaat Kunstefees om al die produksies te kyk en te beoordeel. Die kykNET Fiëstas word op Donderdag, 8 Februarie 2018 by Monte Casino in Johannesburg aangebied. Kaartjies vir dié glansgeleentheid is vanaf Maandag, 4 Desember 2017 beskikbaar. Vir meer inligting, besoek kykNET se webblad.

Hier is die volledige lys benoemings:

BESTE AKTEUR
Albert Pretorius – Wild
De Klerk Oelofse – Nêrens, Noord-Kaap
Paul du Toit – Melk & Vleis
Wessel Pretorius – Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie

BESTE AKTRISE
Anna-Mart van der Merwe – Liewer
Antoinette Kellermann – Asem
Illse Roos – Melk & Vleis
Tinarie van Wyk Loots – Wild

BESTE MANLIKE BYSPELER
David Viviers – Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie
Edwin van der Walt – Asem
Kopano Maroga – Buite Land
Wilhelm van der Walt – Liewer

BESTE VROULIKE BYSPELER
Crystal-Donna Roberts – Altaar
Elize Cawood – Buite Land
Nicole Holm – Piekniek by Mpande (nee Dingaan) 
Tarryn Wyngaard – Liewer

BESTE REGIE
Jaco Bouwer – Liewer
Lara Bye – Die reuk van appels
Marthinus Basson – Melk & Vleis
Neil Coppen – Buite Land

BESTE TEATERONTWERP
Jaco Bouwer – Liewer; Stel
Marthinus Basson – Die koninkryk van die diere; Stel en kostuums
Neil Coppen en Vaughn Sadie – Buite Land; Stel
Philip Rademeyer – Weerkaats; Stel en beligting

BESTE SPEL IN ’N SOLO-VERTONING
Dawid Minnaar – Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran
De Klerk Oelofse – Strooijonker 
Gideon Lombard – Die Reuk van Appels
Milan Murray – Weerkaats

BESTE NUUTGESKEPTE AFRIKAANSE TEKS
Marina Albertyn – Melk & Vleis
Tertius Kapp – Liewer
Wessel Pretorius – Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie
Nico Scheepers – Nêrens, Noord-Kaap

BESTE OPKOMENDE KUNSTENAAR
Des-Lee McKenzie – I(ras)ioneel
Dewald van der Merwe – Rou (in DEURnis)
Marina Albertyn – Teks vir Melk & Vleis
Retief Scholtz – Teks vir Dop en Weerkaats

BESTE PRESTASIE IN KLASSIEKE MUSIEK
Regie: Antoinette Olivier, Conroy Cupido en Santisa Viljoen – RSG Dis Opera: Gunsteling musiek uit die Opera
Bongani Khubeka (bas-bariton) Stemme vir Môre
Jose Dias (klavier) en Janelle Visagie (sopraan) – Pioniers
US Camerata Chamber Ensemble (Leon Bosch en Denis Goldberg) – Moments in a life

BESTE PRESTASIE IN VISUELE KUNS
Athi-Patra Ruga (kunstenaar) – A young retrospective
Henk Serfontein (kunstenaar) – Winterslaap
Marieke Kruger (kunstenaar) – Carceral Spaces: Anticpating the sublime…
Sandra Hanekom (kurator) – Bosch in Afrika

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – BUITELUG
Innibos Jacaranda FM Konsert
Rymklets van Oos tot Wes
Ballades
Judith Sephuma

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – PODIUM
Stef Bos – Bos Innibos
Amanda Strydom – So onner deur die maan
Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar
Hilandi du Toit en June van Merch – Gedig, my snaar

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – TEATER
Zolani Mahola – Rok en Rol
Piekniek by Mpande (née Dingaan)
Die Riel van Hip-hop
Legendary Divas: Vicki Samson, Amanda Strydom & Gloria Bosman

BESTE AANBIEDING
Melk & Vleis 
Buite Land
Die reuk van Appels
Liewer

BESTE DUO OF ENSEMBLE
Mike & Mavis
Liewer
Klara Maas se hart is gebreek ensomeer: Die Vloeistof-trilogie
Nêrens, Noord-Kaap

BESTE VERTALING OF VERWERKING VAN Ń BESTAANDE WERK
Die Reuk van Appels, verwerking van Mark Behr se gelyknamige roman deur Johann Smith
Die Koninkryk van die Diere, vertaling deur Marthinus Basson
Die Fliek, vertaling en verwerking deur Nico Scheepers
Buite Land, Oorspronklike teks: Neil Coppen, vertaling deur Amy Jephta

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?