As kunste tog net land kon regeer

emo

Kontemporêre musiek: ‘Karoo swing’

Ilza Roggeband

Twee van hulle ís al pa, so ’n mens kan hulle seker nie meer jonk noem nie, maar jy kan amper nie anders as om na Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe as die jong manne van Afrikaanse musiek te kyk nie. Dit voel immers of dit net die anderdag is wat hulle hul deurbraak begin maak het.

Maar dan dink jy terug en besef dit is 11 jaar gelede wat Adams en Van Jaarsveld deel van Huisgenoot se konsert was om hul 90ste verjaardag te vier. Intussen het hulle solo-loopbane gebou en groot name geword. Tyd vlieg.

Adams, Van Jaarsveld en Maboe het nog ’n ding in gemeen: hulle is al drie aanbieders van gewilde TV-programme. All-rounders dus en manne wat nie terugstaan vir uitdagings nie.

Die drie het saamgespan, onder leiding van Adams se All Star Events, om Karoo Swing na die fees te bring. Die musikante op die verhoog was Take Note, die orkes wat gereeld vir Adams begelei.

Die program is saamgestel uit bekende Afrikaanse liedjies wat ’n swaai en ’n swing gekry het en die manne was elegant in swart en wit geklee. Daar is goedig onder mekaar gespot en daar is saam gesing en ook alleen.

Die klank het die produksie effens gepootjie. Die orkes was met tye te hard en dit was soms moeilik om die sangers te hoor. Vir so ’n produksie moet die orkes leer om bietjie terug te hou. ’n Konsert in ’n binnenshuise venue is nie dieselfde as een op ’n verhoog op ’n feesterrein nie, en harder is nie noodwendig beter nie.

Al drie die sangers het hulle goed van hul taak gekwyt, maar ’n mens moet tog vir Maboe ’n klein bietjie voortrek. Hy het ’n baie sterk stem en sy teenwoordigheid op die verhoog maak van hom ’n kunstenaar wat ’n plesier is om dop te hou.

Terwyl amper die res van die land Woensdag betoog het teen ’n regering wat nie na sy mense kyk nie, het ’n Maboe, ’n Adams en ’n Van Jaarsveld saam ge-swing.

As die kunste tog net die land kon regeer.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?