Komedie: ‘Die koninkryk van die diere’

diere2

Maak kuns of jy’s ‘toast’

Marina Griebenow

Dit is 2016. Reeds sedert 2011 verdien ’n vyftal akteurs hul lewensbrood as lede van ’n toneelgeselskap wat aand vir aand en soms selfs smiddae oor naweke ’n toneelstuk genaamdDie koninkryk van die diere opvoer. Dit is tyd vir die diere om ’n koning te kies en hulle moet besluit wie die beste kandidaat is: leeu of zebra.

Peter (Stian Bam) speel die iesegrimmige en egosentriese leeu, Frankie (Ludwig Binge) die pronkerige dog middelmoot zebra, Dirk (Dawid Minnaar) die effe neurotiese dog vasberade maraboe, Sandra (Tinarie van Wyk Loots) die hupse en verontregte gemsbok, en Isabel (Joanie Combrink) die hulpvaardige en flegmatiese muskeljaatkat.

Daar is egter ’n slang in die paradys. Die speelvak van Die koninkryk van die diere gaan spoedig ten einde loop en die gerugte in die teatergange is dat ’n “Parabel des Untergangs” oftewel “ondergangsverhaal” genaamd Die tuin van goeters volgende op die lys is. Die rolle wat beskikbaar is, is dié van ’n gebakte eier, ’n tamatiesousbottel, ’n stuk roosterbrood en ’n pepermeul. Die dilemma? Vier rolle vir vyf spelers. Wie gaan gly en wie gaan bly? En asof dit nie erg genoeg is nie, hoe vertolk jy in elk geval ’n gebakte eier of ’n tamatiesousbottel?

’n Sterk komiese aspek is die mate waartoe die akteurs se persoonlikhede ooreenstem met die aard van die dierekarakters wat hulle vertolk.

Die geskinder en onsekerheid versprei soos ’n veldbrand en die dieremaskers raak al hoe belangriker. Soos hul dierekarakters, probeer die akteurs oorleef deur hul gebied te merk en verbete te verdedig. Almal is liggeraak en agterdogtig; die potensiaal vir konflik so hoog soos Berg Kilimandjaro.

Dis nie die eerste keer dat Marthinus Basson die werk van die gewilde Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig takel nie. Basson het vantevore sy familiedrama Die Frau von früher, oftewel Die vrou, by die KKNK aangebied met Brümilda van Rensburg in die hoofrol. Ook in daardie geval het jy deurgaans die gevoel gehad dat dinge lelik gaan skeefloop en op die ou end oortref dit selfs jou wildste verwagtinge.

Die koninkryk van die diere is darem heelwat makker en nie heeltemal so makaber nie. Trouens, dele daarvan is ongelooflik snaaks.

As jarelange teatermaker ken Basson natuurlik die politiek agter die skerms van ’n professionele teatergeselskap intiem. Nes in Schimmelpfennig se komedie gaan dit in ’n teater ook om die oorlewing van die slimste of die sterkste of selfs die mooiste.

Die aksie in Die koninkryk van die diere word verdeel tussen uittreksels van die toneelstuk op die verhoog en die dinge waarmee die akteurs hulle besig hou in hul kleedkamers wanneer hulle nie op die verhoog is nie.

Die storie wat op die verhoog vertel word, word aangevul (en aangedik) deur wat in die gange en kleedkamers gebeur. Die voordeel hiervan is natuurlik dat die werklike tegniese personeel en verhooghandlangers sommer openlik kan help met die toneelveranderings en dekorverskuiwings. Dit is tog immers ’n teater.

Soos gewoonlik behartig Basson sy eie ontwerp. Die kostuums, maskers en grimering van die dierekarakters is fassinerend en verbeeldingryk. ’n Mens wonder tog of die tikkie krasheid wat jy in die kostuums bespeur ’n tong-in-die-kies verwysing is na die banaliteit van sommige Eerstewêreldse produksies, en veral na hul idee van Afrika.

Met ’n rolverdeling soos dié van Die koninkryk van die diere beskik elke speler, sonder uitsondering, oor soveel vaardighede dat Basson werklik kan doen wat hy wil.

Hy het tot sy beskikking die finesse en afronding van Minnaar, Binge se energie en lyfspel, Bam se resonante stem en rysige verhoogteenwoordigheid, Van Wyk Loots se skoonheid en onwrikbare fokus en Combrink se skitterende komiese tydsberekening en eerlike vertolking. En elke akteur en dier kry in ’n stadium kans om hul beste voet voor te sit.

’n Mens moet natuurlik nie van Wessel Pretorius vergeet nie. Hy verskyn onverwags op die verhoog as die skrywer van die ontbytkos-drama nadat hy vir Frankie by ’n laatnagplek raak gekuier het.

Toe Pretorius op die verhoog verskyn, snak ’n gehoorlid in die ry voor ons hoorbaar na sy asem. ’n Kollega leun oor en vra saggies: “Maak Wessel dan ’n guest appearance?” Natuurlik nie, maar dis hoe dit in daardie oomblik gevoel het.

Soos die ander in die geselskap, lewer Pretorius knap en ongestoord sy bydrae.

Die ernstiger vrae wat Die koninkryk van die diere onderlê, verdien beslis aandag, maar vir die duur van die toneelstuk is die boodskap: Werk en maak kuns ten alle koste, anders is jy “toast”.

Komedie. Johnny Bisschoff-saal. Vandag om 19:30, môre om 19:30 en Sa. om 19:30.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?