Klassieke drama Sizwe Banzi is Dead verower drie Kannas na KKNK 2016

Kanna Wenners

John Kani, Athol Fugard en Winston Ntshona se klassieke Suid-Afrikaanse drama, Sizwe Banzi is Dead spog met drie Kanna-pryse na afloop van die 22ste KKNK.

Die Kannas, wat jaarliks uitblinkers by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bekroon, is Sondag, 24 April by Youngblood Africa in Kaapstad oorhandig.

Sizwe Banzi is Dead, onder regie van John Kani en vervaardig saam met Mannie Manim, is bekroon met die Kanna vir beste teateraanbieding, beste regisseur en Atandwa Kani as beste akteur.

Klara Maas se hart is gebreek, met Wessel Pretorius en David Viviers, het die Kanna vir beste debuutwerk ontvang. Dié produksie was saam met nege ander deel van Kunste Onbeperk se innoverende kortkuns teater-konsep, Uitkampteater.

Een van die groot hoogtepunte was optredes deur die dansgeselskap, Cape Dance Company, met A thousand shepherds en Blue. Mthuthuzeli November, een van dié dansers, het die Kanna vir beste opkomende kunstenaar ontvang vir sy bydrae tot die dansprogram, A thousand shepherds.

Sandra Hanekom, kurator van Huisgenoot se Hartgenoot. Kultuurgenoot: 100 jaar kunsuitstalling het die Kanna vir beste prestasie in visuele kuns ontvang.

Albert Pretorius ontvang sy tweede opeenvolgende akteurs-Kanna, vanjaar as beste byspeler: manlik vir sy briljante komiese vertolking in die klug, Hond se gedagte. Karli Heine ontvang die Kanna vir beste byspeler: vroulik vir haar spel in die Kunste Onbeperk en US Woordfees ko-produksie, Hensop!. Heine was ook te sien in die hoofrol van Kunste Onbeperk se musiekblyspel, Heidi.

Tinarie van Wyk Loots se vertolking in Hemelruim het aan haar die Kanna vir beste aktrise besorg. Dié rol het reeds vir haar ’n toekenning tydens Clover Aardklop en ’n kykNET Fiësta ingepalm.

HemelBesem, vanjaar vereer met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys, se multi-dissiplinêre musiekproduksie, Die Afrikaansvatter, is bekroon met die Kanna vir beste musiekproduksie.

Stefan Temmingh, die Suid-Afrikaanse blokfluit-virtuoos wat in Duitsland woon, en Erik Dippenaar se Corelli à la mode is bekroon met die kanna vir beste klassieke musiekuitvoering.

Volgens Danie Marais, sameroeper van die Kannapaneel wat jaarliks die Kannas toeken, was dit weens die verskeidenheid en besonderse gehalte op die program vir die paneel “bitter moeilik” om nominasies en wenners aan te wys.

“Hierdie jaar se program was ’n fees van gehalte en verskeidenheid. As jy net Oudtshoorn toe gereis het om die meesterlike tentoonstelling van klassieke Suid-Afrikaanse teater soos Sizwe Banzi is Dead by te woon, was dit die moeite werd. Daarmee saam het jy vars, vernuwende teater en opkomende talent van Uitkampteater gekry, wonderlike dansvertonings deur die Cape Dance Company, wêreldklas kontemporêre en klassieke musiek met opwindende nuwe samewerking en rymklets, eg inheemse stories naas nuwe vertalings van kort stukke deur die Nobelpryswenner, Samuel Beckett en verskeie ander interessante Afrikaanse interpretasies van ’n klug en dramas wat reeds internasionaal diep spore getrap het”, sê Marias.

Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied, het die kwaliteit van produksies geloof: “Die sukses van ’n fees is gewortel in die kwaliteit en verskeidenheid van aanbiedings en genres. Dit is wonderlik om met die Kannas nie net die kreatiwiteit en vaardigheid van individue te beloon nie, maar ook ’n geleentheid vir Kunste Onbeperk om die honderde kunstenaars se toegewyde bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunste en die KKNK te vier en hulle te bedank.”

Tydens die Kannas het Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, nuwe inisiatiewe deur die maatskappy aangekondig. Dit sluit ’n teksmark in, wat ’n geleentheid aan skrywers bied om nuwe inheemse tekste bekend te stel. Kunste Onbeperk se nuwe webblad sal verder dien as ’n inligtingsplatform vir die kunstebedryf. “Dit is die kunstenaars wat ons inspireer om as organisasie meer te doen en waar moontlik die kunste op verskillende platforms en wyses te ondersteun en landswyd ’n bydrae en verskil te maak”, sê sy.

Snyman het ook ’n kontant-donasie, wat tydens die fees ingesamel is, aan die Teaterbystandsfonds oorhandig. Dié fonds is ’n nie-winsgewende organisasie wat betrokkenes in die vermaaklikheidsbedryf in noodsituasies ondersteun.

Vanjaar se Kanna-prysgeld is geborg deur Naspers, Absa, die ATKV, SARIE, Ton & Anet Vosloo en Kunste Onbeperk. Die Kannapaneel was Danie Marais (sameroeper), Retha Bornmann, Cornelia Faasen, Deon Maas, Thami Mbongo, Laetitia Pople, Louis Pretorius, Clive Smith, Malan Steyn, Mareli Stolp en John Theodore.

Volgende jaar se KKNK word van Saterdag, 8 April tot Saterdag, 15 April op Oudtshoorn aangebied.

Die lys van Kanna-wenners vir 2016 is:

Kanna vir Beste Teateraanbieding
• Sizwe Banzi is Dead

Kanna vir Beste Akteur
• Atandwa Kani (Sizwe Banzi is Dead)

Kanna vir Beste Byspeler: Manlik
• Albert Pretorius (Hond se gedagte)

Kanna vir Beste Aktrise
• Tinarie Van Wyk Loots (Hemelruim)

Kanna vir Beste Byspeler: Vroulik
• Karli Heine (Hensop!)

Kanna vir Beste Musiekproduksie
• Die Afrikaansvatter

Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
• Corelli à la mode

Kanna vir Beste Regie
• John Kani (Sizwe Banzi is Dead)

Kanna vir Beste Debuutwerk
• Klara Maas se hart is gebreek

Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar
• Mthuthuzeli November (Dansprogram: A Thousand Shepherds)

Kanna vir Beste Visuele Kunsaanbieding
• Sandra Hanekom (kurator van Huisgenoot. Hartgenoot. Kultuurgenoot: 100 jaar)

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?