KKNK kuier by Coenie de Villiers

Coenie

Coenie de Villiers en sy musikante spring weg met komposisies van sy skitterende nuwe album, Emoji, asook ’n paar bekende treffers. Die laaste deel van die program bestaan uit die oorspronklike Karoo Suite, ’n musieksuite vir woord en lied, struktureel gegrond op Vivaldi se Vier seisoene. Elke segment raak aan ’n besondere Karoo-seisoen. De Villiers het die musiek gekomponeer en die internasionaalbekende skrywer Deon Meyer het gehelp met die teks. Die bykomende lekkerte is Meyer se asemrowende fotografie en projeksies.

“Deon was verantwoordelik vir die teks (wat eenvoudig wonderskoon is), en my uitdaging was dan om ’n bed van musiek onder en óm die teks te skep om dit te ondersteun en by te dra tot die musiekstorie,” vertel Coenie.

Hoewel die Karoo Suite op die klassieke formaat van die Vier Seisoene gebou is, kan ’n oorspronklike, eietydse sjarme beslis verwag word. “In die proses van saamwerk het ons, en veral Deon, besef dat die seisoene beperkend sou wees en hy het die net van die skrywer heelwat wyer gesprei,” sê Coenie oor die seisoene as uitgangspunt vir die Karoo Suite.

Die openingsegment se titel is die Storie-Karoo, die tweede beweging is die Gasvry-Karoo, die derde is die Genade-Karoo, en die slotbeweging die Karoo-Simfonie. “Daar is ook ‘n klein ekstra verrassing, maar daarvoor gaan mense maar moet kom kyk” sê Coenie.

Die Karoo Suite is vir beide partye ’n projek wat redelik buite hul gemaksone val. Dit is ook  dié werk se debuutuitvoering. “Ek is daarby taamlik gewoond aan die verhoog, maar Deon is ons verteller op die verhoog (hy het ’n pragtige stem), en hy weet te vertel sy broek bewe net so effens!” vertel Coenie oor die uitdagende proses.

Coenie is al ’n bekende en geliefde gesig hier by KKNK. Toe ons vir hom vra wat sy gunsteling oomblik by die fees was, sê hy “ek vergeet hoeveel feeste ek meegemaak het sedert die eerste KKNK-fees, maar die mees wonderlike ervaring en beste herinnering is sonder twyfel die finale by die opelug-simfoniekonsert waar ek my lied Karoonag saam met die orkes gesing het, en dit vir presies die duur van die lied liggies gereën het …  Tot vandag toe kry ek hoendervleis as ek daaraan dink.

Ons hoop vir nog vele hoendervleis oomblikke saam met Coenie de Villiers. Ons hoef heel waarskynlik net tot  die KKNK te wag.   

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?