‘Hond’: Mens wil Frank se kop vryf

frank

Marina Griebenow

Sowat ’n maand gelede by die Woordfees op Stellenbosch het ’n mens die akteur Frank Opperman in ’n gedaante gesien wat jou laat hoop het dat sy kreatiewe vlamme meer dikwels so naby aan die brandpunt of snykant sal beweeg.

As die kolonel in Ryk Hattingh se Sing jy van bomme was hy aanvanklik onherkenbaar, nie weens sy grimering of kostuums nie hoewel ook dít indrukwekkend was, maar omdat hy ’n karakter so algeheel bewoon het wat strate verwyderd is van die soort karakters wat hy gewoonlik (baie goed) vertolk en waarin ons hom ken: Ouboet, ds. Tienie Benadé, en dies meer.

Hier op Oudtshoorn is Opperman terug met die soort toneel wat sy brood-en-botter geword het, ’n solostuk genaamd Hond deur Dana Snyman, ’n geliefde skrywer wat gewoonlik daarin slaag om sy toon in die bedrieglike moeras van Afrikaner-nostalgie te druk maar nie daarin vas te val nie.

Die sjarme van Snyman se stories lê in sy vermoë om empatie te wek vir die dierbare en onbeholpe sukkelaars omdat ons aspekte van onsself of mense vir wie ons ken in daardie karakters kan herken. Uit die reaksie van die gehoor – met een of twee wat luidkeels saampraat en beaam tot hulle met ’n “sjarrap!” stilgemaak word – is dit beslis ook in Hond die geval.

Dié storie, vermoed ’n mens, bevat heelwat biografiese elemente. (Snyman het self glo drie honde, so hy skryf gesaghebbend.) Opperman se hond, Ore, is met kanker gediagnoseer en moet gevolglik uitgesit word. Die toneelstuk bestaan uit ’n gesprek met die hond. Dié gesprek word kort-kort onderbreek deur ’n ander gespreksgenoot, die selfoon, en op daardie manier leer ons vir Christine ken, sy vrou wat hom pas verlaat het, die huishulp Grace, Nadia van Die Huisgenoot vir wie hy ’n storie skuld, ’n man wat ’n storie wil verkoop oor ’n kameelperd wat doodgeskok is, en dies meer.

Natuurlik is Opperman se gesprek met Ore eintlik net ’n voertuig om die gehoor in te lig omtrent die gebeure, vraagstukke en mense in sy eie lewe. Namate hy oor die hond se karaktereienskappe uitwei en waarmee hy empatie het, besef jy hy projekteer maar eintlik net sy gevoelens en dat die geloof dat honde-eienaars en hul honde later al hoe meer na mekaar lyk en aard, seker nie te ver van die waarheid is nie. Opperman doen dit só geslaagd dat jy begin verstaan waar die Engelse uitdrukking “hangdog expression” vandaan kom. As jy nader aan hom was, het jy waarskynlik sy kop gevryf en vir hom kos gegee om hom te laat beter voel, nes hy met Ore doen.

Die regisseur Gerrit Schoonhoven (hy’t glo vyf honde) staan rustig aan die stuur van sake. Met ’n akteur van Opperman se ervaring en ’n stewige teks is sy taak waarskynlik nie te moeilik nie. Die onderwerp is ook tref­seker. Wie se hart sal dan nou nie verteder by die aanskoue van die liefde tussen ’n man en sy hond nie?

Opperman en Snyman is albei puik storievertellers en Opperman kan gerus voortgaan om die mense van sy geliefde Ore te vertel. ’n Mens hoop egter dat hy so nou en dan ook die kolonel sal toelaat om Ore vir ’n stappie te vat.

Hond. Drama. Laerskool Van Reedesaal. Vandag en Sa. 13:00.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?