Fiëstas is om die draai

Fiestas

Trek jou dagboek nader en maak ’n nota, want op Donderdagaand 18 Februarie is daar net een plek om te wees: kanaal 144. Die Fiëstas, wat vanjaar vir die sesde keer aangebied word, word om 20:00 regstreeks op kykNET vanaf die Staatsteater in Pretoria uitgesaai en dit beloof om ’n glansryke en opwindende aand te wees.

Die gasheer en gasvrou vir die aand is Pierre Breytenbach en June van Merch en die gasaanbieders is Clint Brink, Erik Holm, Leandi du Randt, Rozanne McKenzie en Deon Lotz. Daar sal optredes deur Adam, Jaco van der Merwe, Vicky Sampson, Esther Nasser Dance Company, SircuSynergy en die Universiteit van Pretoria se Camerata-koor wees.

Soos met vorige jare se Fiëstas, sal daar ook uittreksels uit benoemde toneelstukke wees, onder meer Amper, Vrystaat (Antoinette Louw, Cintaine Schutte, Milan Murray) en Die Dag is Bros (Ben Albertyn en Sandra Prinsloo).

Die kreatiewe regisseur is Juanita Køtzé, die musiekregisseur is Janine Neethling en Ian von Memerty is die verhoogregisseur. Die ontwerpers wat vir die kostuums verantwoordelik is, is Karen Ter Morshuizen, Stiaan Louw, Suzanne Heyns en Vesselina Pentcheva. Die trofeë is deur Glass Forming Academy vervaardig.

Vanjaar se benoemings in die dertien kategorieë vereer weer die beste wat in 2015 by die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika te sien was. Son. Maan. Sterre. het agt benoemings gekry, Amper, Vrystaat, Die Dag is Bros en In Glas het elk vyf benoemings, Liewe Heksie: Flower Power en Skuldeiser spog met vier benoemings elk, Santa Gamka met drie benoemings en Buite Blaf die Honde Swart, Nie As Ek Sing Nie: Laurika Rauch en Al Lê die Berge Nog So Blou het elk twee benoemings gekry.

Lida Botha, Ronnie Samaai en Pieter Fourie word vir hulle lewensbydrae vereer. Die Blou Stoel-toekenning asook die toekenning vir die gewildste fees in die land word die aand van die toekennings bekend gemaak.

Klik hier om die volledige lys van beoemings te besigtig.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?