Feeskunstenaar: Kagiso Pat Mautloa

Kagiso-Pat-Mautloa

Kagiso Patrick Mautloa is een van die feeskunstenaars by vanjaar se fees. Sy uitstalling is ’n reis deur die psige van ’n gevestigde kunstenaar in Suid-Afrika. Mautloa bestudeer die straatlewe rondom hom, wanneer hy besig is om te werk in sy ateljee by die Bag Factory (Fordsburg Kunstenaars Studios) in die middestad van Johannesburg.

Die vroue wat mielies oor steenkool- aangedrewe vuurpotte op straat-hoeke braai, die groot-handelaars en smouse wat goedkoop invoer-produkte uit die Verre-Ooste verkoop, die straathandelaars wat ’n lewe probeer maak met ’n paar items op ’n klein bord naby die besige kruisings. Dít is die mense wat die lewe en werk van Mautloa beïnvloed.

Sy uitstalling se naam is Retro-Pre-Intro en word beskryf as ’n mengsel van skilderkuns en konvergensie, met die titel wat sterk invloed trek vanuit die feestelike beelde van die stad, die hede en die verlede, wat mens twee keer laat dink oor die toekoms van die stad.

Mautloa is op 24 September 1952 in Ventersdorp gebore. In 1954 verhuis hy saam met sy familie na Soweto en dit is hier waar hy sy vroeë onderrig ontvang. Tydens sy dae op hoërskool het hy aktief by die kunswêreld betrokke geraak, wat daartoe gelei het dat hy kuns aan die Jubilee Kunssentrum in 1969 en die Mofolo Park Arts Centre in 1970 begin studeer. Nadat hy in 1972 skool verlaat, het hy sy studies voortgesit by die Mofolo Park Arts Centre tot en met 1975.

Hy het altyd ’n liefde vir kuns gehad en deur die loop van sy lewe het hy gestreef om hierdie kreatiewe en vindingryke denkwyses te slyp deur betrokke te wees by enige vorm van kuns. Hy werk vir ’n tyd as grafiese ontwerper by die SAUK. “Ek was altyd vasbeslote om kuns na-ure te doen en ek het my verlofdae gespaar vir werkswinkels,” vertel hy met ’n flikker van nostalgie in sy oë.

Mautloa is baie opgewonde en voel geëerd om as feeskunstenaar by ’n KKNK uit te stal. Hy beskryf sy reis na die KKNK 2016 as humeurig en baie besig. Om ’n inkomste te verdien, sonder om enige toewyding aan sy gekose loopbaan te versaak, was vir Mautloa uitdagend, maar uiteindelik baie lonend.

Mautloa is ’n kunstenaar wie se werk ’n netjiese definisie ontwyk, omdat hy homself net so gemaklik in abstrakte werk as meer figuurlike beelde uitdruk. Die meeste van sy werke is in olie en akriel, maar hy het ook in die verlede voorwerpe en collages in sy tweedimensionele werke ingesluit en het ’n aantal fotografiese stukke gedoen. Sy styl word as dinamies en veranderend beskryf, maar wel nie radikaal nie. “Ek het nog nooit myself as deel van een spesifieke styl geag nie. Ek het vir ’n lang tyd werkswinkels bygewoon, wat bygedra het tot die gees van eksperimentering in verskillende temas, tegnieke en materiale wat ek deur die loop van my lewe gebruik het.” Hy het selfs al met beeldhouwerk geëksperimenteer.

Oor die toekoms praat Mautloa met ywer. “Ek het pas ’n Standard Bank-opdrag voltooi, wat een van die grootste stukke werk is waarby ek al betrokke geraak het. Ek voel dat ek al ’n redelike groot bydrae tot die plaaslike kunste gelewer het en wou nog altyd ’n huishoudelike naam en Suid-Afrikaanse uitvoerproduk wees.”

Inspirasie is die kern van Mautloa se werk, of dit nou iets is wat hy eers moet ervaar, of iets wat hy met sy kuns by ander wil inboor. “Ek het maatskaplik in die kuns-, sowel as die nie-kuns-gemeenskap gewerk. Ek is opgewonde oor die toekoms van jong kunstenaars en daarom het ek nog altyd ’n oopdeur- beleid gehandhaaf. Baie behoeftige kunstenaars het al in die verlede na vore gekom en ons kon saamwerk.”

Mautloa is ’n komiteelid by die Thupelo-kunsprojek en neem jaarliks aan dié werkswinkels deel. Sy werk kan by die UFH se jaarlikse uitstallings en die UZ-Afrikaanse Kunstefees-uitstallings gesien word. Hy woon tans in Alexandra, saam met sy vrou en medekunstenaar, Bongi Dhlomo en skep kommersiële grafiese ontwerpe, sowel as sy eie kuns.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico

Log in with your credentials

Forgot your details?