Feeskunstenaar: Hanneke Benadé

Hanneke-Benade

Na ’n sewe-jaar-hiatus is die werke van Hanneke Benadé by die KKNK te sien. Sy keer terug na Oudtshoorn met ’n solo-uitstalling wat asems sal wegslaan.

Haar pad na die KKNK het nie sonder harde werk gerealiseer nie, maar wat ’n vreugde is dit vir haar dat haar pad wel hierheen gelei het. “Ek het visuele kuns studeer by die Universiteit van Pretoria. My hoofrigting was grafiese drukkuns, litografie. Ons tekendosent was Diane Victor en ek het op universiteit begin deelneem aan kompetisies, onder andere die Sasol New Signatures- en Absa L’Atelier-kompetisie en het sigbaar probeer raak deur solo-uitstallings en geselekteerde groepuitstallings. Ek dink daar was ’n groot mate van toewyding met die verloop van tyd.”

Sedert 1993 het sy dikwels in Gauteng uitgestal en in hierdie tyd aan groepuitstallings, plaaslik en internasionaal, deelgeneem. Sy neem ook aan die Joburgbiënnale deel en was by die Londense Art Fair verteenwoordig.

Haar eerste solo-uitstalling, Local Girls, was in 1996 by die Gallery on Tyrone in Johannesburg. Nadat sy na Kaapstad verhuis het, was Passage by die Chelsea Gallery in Darling te sien, gevolg deur The Gift by die US-galery in Stellenbosch en Once More, Wants More by die Scukan Gallery in Pretoria.

Haar werk word beskryf as stil en kontemplatief. “Ek werk hoofsaaklik met sagte pastel op wit katoenpapier. Daar is ’n onderliggende outobiografiese toon. My werk lewer nie sosiale kommentaar of spreek enige kwessies aan nie, maar is eerder ’n strewe na stilte en tydloosheid. Die modelle wat ek gebruik beskryf ’n gedagtegang, ’n onbepaalde emosie, hulle is anoniem en ontwykend. Die portrette is nooit studies van iemand nie, maar van iets. Soms is daar ’n narratief, veral in die groter werke.”

Haar doel is dat die kyker met die stemming van die toneel moet identifiseer en is bekend daarvoor om ’n emosionele reaksie uit te lok. Die toneel is ’n metafoor. “Die karakters wat ek uitbeeld in pastel is almal (ongeag geslag) portrette, dink ek, van myself.”

Sedert Benadé se eerste uitstalling, het sy aan ’n paar groepuitstallings by die KKNK deelgeneem en was kurator van ander uitstallings op Kruisrivier. Benadé het goeie herinneringe van haar eerste solo-uitstalling by die KKNK. “Die eerste solo-uitstalling was in 2008 op die plaas Kruisrivier, buite Oudtshoorn. Die uitstalling dáár was ’n uitnodiging aan feesgangers om die Klein Karoo te ervaar in plaas daarvan om net in die dorp te bly. Dit was baie goed ontvang en was ’n besondere uitstalling en ervaring.”

Benadé vertel opgewonde oor haar terugkeer na die KKNK: “Ek sien verseker uit na ’n herbesoek aan die KKNK. My uitstalling se titel vir dié jaar is Herbesoek, Twee Dekades.” Die uitstalling bevat sleutelwerke uit temas van haar solo-uitstallings oor die afgelope twee dekades. “Daar sal ’n paar groot werke en sommige kleiner pastelle wees,” vertel sy.

Wanneer Benadé vanjaar fees toe kom, is dit natuurlik om op haar eie werk klem te lê, maar ook om die werk van ander te waardeer. “Ek sien uit na die ander uitstallings. My ma, Ada Liefbroer-Benadé, stal ook amptelik uit in haar eerste solo-uitstalling ooit. Toevallig is ek die kurator van haar versameling beelde. Die KKNK se jaarlikse uitstallings maak dit moontlik vir die algemene publiek om toegang tot kuns te hê, en bring só kuns na
die mense.”

Benadé het verskeie toeken-nings ontvang, waaronder merietetoekennings by die Absa L’Atelier in Junie 1995 en ’n Brett Kebble-toekenning in 2003. In 2008 het sy twee Kanna-toekennings by die KKNK ontvang.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?