‘DIE STOELE’ MET TOBIE CRONJÉ GEKANSELLEER BY KKNK

KKNK-2018-web-images-1000x500-Die-Stoele

Kunste Onbeperk, aanbieder van die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), het na sorgvuldige oorweging in oorleg met die betrokkenes besluit om die speelvak van Die stoele by vanjaar se fees te kanselleer. Dié stuk, met Tobie Cronjé en Antoinette Kellermann in die hoofrolle, is vervaardig in opdrag van Kunste Onbeperk om Cronjé vir sy lewensbydrae tot teater te vereer.

“Ek is natuurlik teleurgesteld dat ons die speelvak moet kanselleer,” sê Cronjé, wat vanjaar 70 word. “Dit was nog net nie reg nie. Die stoele is dié moeilikste stuk werk wat ek nog aangepak het. En ’n mens wil dit graag goed doen.”

Cronjé vertolk die rol van die Ou Man in dié absurde tragiese klug van Eugène Ionesco, onder spelleiding van Marthinus Basson. Kellerman vertolk die Ou Vrou.

Dit is die eerste keer dat Cronjé saam met Basson en Kellermann werk. “Dit is ’n ongelooflike ervaring en ek put soveel genot daaruit,” sê hy.

Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, begryp die fees en die direksie die situasie, en is almal dit eens dat die kansellasie die regte besluit is. Die stoele sal nou later debuteer –besonderhede sal bekend gemaak word sodra finale reëlings getref is.

Die tydgleuwe by die SANW ouditorium waar Die stoele sou speel, word gevul deur ekstra vertonings van ander gewilde produksies:

  • Melk & vleis op Saterdag 31 Maart om 14:30
  • My vrou se man se mannetjie op 1 April om 09:30

Die reuk van appels, die trefferproduksie wat verlede jaar by die KKNK gedebuteer het en wat reeds talle pryse ingeoes het, sal vir twee vertonings terugkeer na die fees:

  • Die Reuk van Appels sal op 2 en 3 April om 10:00 te sien wees.

Kry kaartjies vir dié ekstra vertonings by Computicket of by die deur.

Teatergangers wat reeds kaartjies vir Die stoele gekoop het, kan hul geld by enige Computicket-tak terugeis. Let wel dat kaartjies vir Die stoele nié gebruik kan word vir toegang tot die nuwe vertonings wat in die plek daarvan geskeduleer is nie.

Die KKNK vind plaas van 29 Maart tot 4 April in Oudtshoorn en is ’n projek van Kunste Onbeperk.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?