Boekgesprekke Waarom word so min dramatekste gepubliseer?

Marthinus Basson, Tertius Kapp en Nicol Stassen gesels gister in die ATKV-Boeke-oase. Foto Marlene Malan

‘Dis ’n braak veld’

Marlene Malan

Op universiteit word Afrikaanse dramatekste glad nie meer voorgeskryf nie. En dié wat nog op skool voorgeskryf word, is horingoud. Daarby publiseer Suid-Afrikaanse uitgewers elk hoogstens een Afrikaanse dramateks per jaar in boekvorm. Die ironie is dat van die heel beste dramas wat in Suid-Afrika opgevoer word, juis dié is wat in Afrikaans geskryf is, maar nooit uitgegee word nie.

Die regisseur Marthinus Basson, dramaturg Tertius Kapp en uitgewer Nicol Stassen het dié toedrag van sake gister in die ATKV-Boeke-oase met die digter en vertaler Daniel Hugo bespreek: Waarom word so min dramatekste in Afrikaans gepubliseer?

Kapp het die Hertzogprys in 2015 gewen met sy drama Rooiland – wat deur Stassen (Protea) gepubliseer is – en Amy Jephta het pas die Eugène Maraisprys gewen met Kristalvlakte – gepubliseer deur Tafelberg, waar Kapp ’n uitgewer is.

Stassen, wat onder meer ook die dramas Johnny is nie dood nie (Malan Steyn), Skrapnel (Willem Anker) en Vrededorp (Charles Fourie) gepubliseer het, het gesê bloedweinig van die tekste soos dié wat nou tydens die KKNK opgevoer word, word uitgegee. “Dis jammer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hierdie drie dramas ’n paar jaar gelede nie as bekroningswaardig beskou nie. Dit het ’n baie negatiewe boodskap uitgestuur. Dit terwyl die opvoerings daarvan al hoeveel pryse ingepalm het.

“Ek gee dramas uit omdat ek voel die geskiedenis van Afrikaanse drama moet geboekstaaf word, en Protea kan ’n bydrae maak op dié gebied. En ek gee ook dramas uit omdat dit vir pryse in aanmerking kan kom. Daarvan maak ek geen geheim nie. Dis jammer dat uitgewers so min van hierdie uitstekende werk uitgee, terwyl daar ’n ooraanbod van boeke in ander genres is, soos misdaadfiksie. Te veel slegte boeke word uitgegee. En dit kos net soveel om ’n goeie boek as ’n slegte boek uit te gee. Dramatekste bied ’n wonderlike geleentheid vir elke uitgewer. Dis ’n braak veld. As jy die heel beste uitgee, soos ek doen, sal dit wel erkenning geniet en suksesvol in die handel wees.”

Volgens Kapp word die meeste dramas eers uitgegee, “indien dit uitgegee word”, nadat dit opgevoer is. “Want dramas verander terwyl jy repeteer. Jy toets dit op die verhoog en kyk of dit werk. Dan is daar die bemarkingsaspek, en dis om ’n bekende akteur wat deel was van die produksie op die voorblad te sit.”

Die dilemma met die onderwysdepartemente is dat hulle “veilige dramas” soek, het Kapp gesê. “Hulle soek nie onderwerpe soos politiek nie, terwyl ek voel die departemente kan gerus probeer om relevant en aktueel te bly.” Daarom bly hulle by tekste soos Die Keiser deur Bartho Smit en Die Rebellie van Lafras Verwey deur Chris Barnard, wat al dekades oud is, het Stassen gesê.

Volgens Basson is alle voorgeskrewe werk vir sy studente in Engels. “Dit sou wonderlik wees as iemand besluit om weer ’n Shakespeare in Afrikaans te vertaal, met ’n nuwe aanslag, ter wille van vernuwing. Ek sal hou van ’n nuwe vertaling van byvoorbeeld King Lear, Shakespeare se giftige, heftige een. Ons taal verarm teen ’n ongelooflike pas. As jy só ’n werk nuut uitgee en kreatief te werk gaan, sal dit wonderlik wees.”

Dramavertalings in Afrikaans bied nóg moontlikhede, soos die Vlaming Tom Lanoye se Mamma Medea, wat deur Antjie Krog vertaal en vir Suid-Afrikaanse omstandighede aangepas is, asook sy Bloed & rose: Die lied van Jeanne en Gilles, wat Basson self vertaal het.

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2017 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?