KKNK-2018-web-header-Baron-van-Reedestraat

Baron van Reedestraat is die hartklop van die fees en feesgangers kan ’n allegaartjie van internasionale en plaaslike straatkunstenaars hier sien.

Uitstaande musiek en interaktiewe gesprekke word op die kykNET-verhoog en die RSG-verhoog aangebied, met optredes deur bekende en nuwe kunstenaars. Uitkampteater, die Blitsbasaar en verskeie ander impromptu-optredes wat sorg vir verrassings vir jonk en oud. Maak ’n draai by die Netwerk24 Feeskafee

op die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg en kry van jou gunstelingpublikasies en aandenkings en luister na gesprekke oor die jongste boeke in die ATKV-Boeke-oase. Dié feestelike straat is ook die tuiste vir onder meer die ATKV-Kampvuur, Uitkampteater, die kykNET-verhoog en ander straatteater.

KKNK-2018-web-images-1000x500-Baron-van-Reedestraat-ATKV-Kampvuur

ATKV-KAMPVUUR

Aangebied deur: Haidee Muller

Haidee Muller, gewilde RSG-aanbieder en ’n boorling van Oudtshoorn, verwelkom elke aand met sonsondergang feesgangers by hul kampvuur. Onder die Karoo-sterre kom storievertellers vanuit al die uithoeke van die land bymekaar om te kuier en verhale van heinde en verre te deel. Die snare word tussendeur getokkel en ’n glasie wyn word geklink. ATKV-Kampvuur word op 29 Maart, 31 Maart en 2 April regstreeks op RSG uitgesaai.

Gratis | 60 min. (31 Maart 120 min.) | RSG-verhoog | 29 Maart tot 3 April 20:00 4 April 17:00

UITKAMPTEATER

Moontlik gemaak deur die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria

Die KKNK se Uitkampteaterinisiatief is by die Fiëstas in 2017 as mees innoverende konsep beloon.

Dié program beloof om ’n hoogtepunt op die program te wees. Dié kortkunsprogram sluit onder meer Nederlandse kunstenaars, die beste van die DCAS se dramafees, talent van die plaaslike distrik en opwindende werke van jong en gevestigde teatermakers in. Die samestelling sorg vir ’n verskeidenheid van genres om jonk en oud te vermaak.

Uitkampteater word voor die Absa Burgersentrum aangebied. Daar is ook verskeie Uitkampteaterproduksies vir kinders in die Kuierbuurt te sien. Van die hoogtepunte sluit in:

DIE MEERMIN-KOMPLEKS

DEBUUT Drama

MET Du Toit Albertze REGIE Wessel
Pretorius TEKS Du Toit Albertze

Robbie is vas oortuig hy is ’n borrel. Die dorp verdink hom van ’n meermin wees. Albei is ewe uit plek met die Calvinistiese oortuigings van die verlate kusdorpie, Draadbaai. Robbie probeer maar net sy plek tussen die grond en see vind, maar sy emosionele reis word onderbreek deur die onheilspellende duikers met hul meerminjagte, sy vader wat hom probeer “regmaak”, pastoor Ursula se duistere agenda en sy kwynende geestestoestand wat aan ’n boogie board hang. Die meermin-kompleks is ’n tragikomiese reeks episodes wat die Victoriaanse ideologieë oor die heiligheid van kindwees, sowel as regstellende verkragtings van gays, in ’n Afrikaner-konteks ondersoek.

Geen o/13 T S | R20 | 20 min. | Voor die Absa Burgersentrum
Daagliks 10:00 tot 12:00 en 15:00 tot 19:00

Die-Meermin-kompleks-500x400
Lolly-500x400

LOLLY

DEBUUT Drama

MET Ameera Conrad REGIE Dara Beth TEKS Ameera Conrad en Dara Beth VERVAARDIGER The Furies Co-Op

Lolly is ’n lewendige pop. Sy is alles wat jy ooit sal begeer, alles wat elke televisieprogram jou oortuig jy verdien. Mans, sy is elke skoolmeisiefantasie wat jy al gehad het, elke laatnagprogram. Dames, sy is elke beeld wat jy nastreef, elke stoute gedagte waaroor jy al gebloos het. Almal anders: Jammer, die media het nog nie heeltemal by julle uitgekom nie, maar Lolly mag dalk. Vergesel Lolly soos sy jou deur ’n wêreld van plesier begelei en nuttige wenke en insig deel deur middel van haar maklik-omte-volg-YouTube-handleidings. Mans, kyk hoe ’n kenner jou vrou leer wat jy nodig het. Dames, leer alles wat jy nodig het om jou man se fantasieë ’n werklikheid te maak. Almal anders: Jy sal sekerlik iets bevredigend hieruit vind.

Geen o/18 | S T N D G | R20 | 20 min. | Voor die Absa Burgersentrum | Daagliks 10:00 tot 12:00 en 15:00 tot 19:00

VAN GANSER HARTE

DEBUUT Komedie

MET Des-Lee McKenzie, Ian van der, Westhuizen en Monique Basson REGIE Ian van der Westhuizen

Moenie van jou hart ’n moordkuil maak nie, want elke hart het sy smart. Dra jou hart op die mou, want wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Van ganser harte doen presies dit. Vier uiteenlopende, skreeusnaakse sketse deur twee nuttelose romantikusse. Elke skets word deur ’n liefdesvers vergesel, maar daar is kinkel in die kabel. Slegs een skets word elke uur opgevoer, maar die vraag is: Watter een? Kom spin die wiel en vind saam met ons uit. Dalk praat die skets van die uur met jóú hart.

OB | R20 | 10 min. | Voor die Absa Burgersentrum | Daagliks 10:00 tot 12:00 en 15:00 tot 19:00

Van-Ganser-Harte-(3)
KKNK-2018-web-images-500x400-Baron-van-Reedestraat-kykNET

kykNET Leefarea

Gryp ’n sitplek by die kykNET Leefarea, ’n straatsitkamer in Baron van Reedestraat, waar jy met jou gunsteling-sepiesterre kan kuier, ten aanskoue van ’n witwarm straatverhoog, waar jou gunsteling-Afrikaanse sterre optree. Die verhoogprogram word aangebied van 10:00 tot 16:30 en jy kan tussen 12:00 en 15:00 jou gunstelinge op die verhoog sien. Jy kan elke dag ’n sepiester uitdaag vir ’n lip-sync battle, of ’n vinnige rondte van FliekNET-vasvrae en onderhoude met kunstenaars en akteurs sien. Verskeie musiek- en teaterproduksies wys tussen 15:00 en 16:00 voorskoue van hul werk, sodat jy laaste-minuut besluite kan neem oor produksies wat jy nie wil misloop nie. Die kykNET Springkasteel staan gereed vir die jongspan. Ons sien daarna uit om jou deel van die kykNET-familie by die KKNK te maak. Daar is geen toegangsfooi vir die leefarea nie – almal is welkom.
Gesin

Gratis | 390 min. | Baron van Reedestraat

Daagliks 10:00

STRAATTEATER

Verskeie verrassings wag op feesgangers met internasionale kunstenaars van o.a. Nederland en Vlaandere, asook straatkunstenaars van regoor Suid-Afrika. Die kunstenaars tree daagliks in verskeie ruimtes en op plekke in Baron van Reedestraat en ander dele van Oudtshoorn op.

KKNK-2018-web-images-500x400-Baron-van-Reedestraat-Straatteater

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?