ATKV

1

Kunstefeeste soos die KKNK speel ’n integrale rol om kultuur te laat floreer. Die ATKV glo kunstefeeste is die platforms waar kundigheid en kreatiwiteit ontmoet. Dis vir ons ’n groot voorreg om te kan sê dat ons reeds sedert die begin van die KKNK  byna ’n kwarteeu gelede  as borg betrokke is.

Feeste soos die KKNK verseker nie net werksgeleenthede vir kunstenaars nie, maar dra ook tot ons taal en ons land se kultuurerfenis by. Terselfdertyd stel feeste ook gehore bloot aan kultuur in al sy verskillende vorme, en ons glo dat die hoor en sien van ander se stories brûe bou en mure tussen Suid-Afrikaners afbreek. Die feeste se toenemende betrokkenheid by die gemeenskap, deur programme wat ’n volhoubare impak het op die mense in die fees se onmiddellike omgewing, is iets waaroor die ATKV ook sterk voel.

Die ATKV en die KKNK is ’n perfekte gedeelde siening. Dit is ’n belangrike vennootskap met voordelige uitkomste vir albei partye.

Die ATKV-Boeke-oase is die ATKV se vlagskip-aktiwiteit by die KKNK en ander nasionale kunstefeeste. Deur ons omvattende boekwinkel en gepaardgaande skrywersprogram, voeg ons die daad by die woord om ’n liefde vir Afrikaanse boeke te kweek en lees te bevorder.

Inheemse musiek en stories is ’n belangrike deel van enige kultuur, en deur die ATKV-Kampvuur op die RSG-verhoog dra ons ook op hierdie vlak tot Afrikaans by.

By die ATKV het ons nog altyd besef dat die toekoms van ons taal en kultuur net soveel in ons jeug se hande lê. Daarom sal Innie selle van die Hoërskool Tygerberg, wenner van die 53ste ATKV-Tienertoneelkompetisie, by die KKNK te sien wees. By die ATKV-Speelbos stel ons ook die heel kleintjies op ’n prettige en interaktiewe manier aan Afrikaans bekend deur onder meer Uitkampteater, poppeteater en optredes deur gewilde kinderboekkarakters.

Die tema “kunskierig” som die verhouding tussen gehore en feeste perfek op. Kunstefeeste maak mense nuuskierig oor die kunste, en solank dit die geval is, sal daar altyd ’n plek vir kunstefeeste, soos die KKNK, en ook vir ons lieflike taal Afrikaans wees.

Feesgroete,

Deidre Le Hanie
Besturende direkteur: ATKV

CONTACT US

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

Sending

© 2018 KKNK. Alle Regte Voorbehou. Digitale Projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?